Die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein.
Die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein.

Al is die Loch Logan-waterfront se krag sedert Maandag deur Centlec afgeskakel ná ‘n hofbeslissing oor wanbetaling, gaan sake normaal voort.

Meryl Henning, woordvoerder van die Loch Logan-waterfront, sê krag vir die sentrum word deur middel van kragopwekkers verskaf en 99% van winkels is oop en doen sake.

Sy sê daar was geen onderbreking in handelsaktiwiteite nie en die veiligheid en gerief van huurders en inkopiegangers bly die winkelsentrum se prioriteit.

In ‘n verklaring wat uitgereik is sê Henning dat die regsdispuut tussen die eienaars en Centlec voortduur en dat die saak steeds hangend is. “Geen hofbevel is toegestaan oor enige bedrag nie. Die eienaars werk aan die saak deur die toepaslike regskanale en wag nou van terugvoer vanaf Centlec.

Dit kom nadat regter Soma Naidoo op 27 Januarie uitspraak gelewer nadat die saak tussen Centlec en die Michael Familietrust op 27 Maart 2024 in die Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor is. Die dispuut gaan oor ‘n uitstaande bedrag wat die trustees Centlec skuld.

Centlec het intussen aangekondig dat dié kragvoorsiener ‘n omvattende meter-oudit, fisieke bate-verifikasie en onderhoud van infrastruktuur in die Mangaung-metro begin het.

Met hierdie inisiatief wil Centlec sy inkomste-invordering verbeter, elektrisiteitsdiefstal beperk en die volhoubaarheid van elektrisiteitsdienste verseker. Die proses raak alle Centlec-kliënte, in die private en openbare sektor.

LEES OOK: Twenty six Bloemfontein properties of the Georgious on auction

“Ons kan bevestig dat sommige van die wanbetalende kliënte met privaatwonings, sommige groot ondernemings is terwyl ander winkelsentrums binne Mangaung is,” sê Thabo Maphisa, woordvoerder van Centlec.

“Centlec het onlangs regstappe teen sommige van die wanbetalers geneem in ‘n poging om meer as R150 miljoen se skuld te verhaal. Na die uitspraak van die howe in Centlec se guns, is die kragverspreider in ‘n beter posisie om sy skuldinvordering teen sommige van hierdie maatskappye af te dwing,” sê Maphisa.

Henning sê die eienaars van die Loch Logan-waterfront glo die saak sal spoedig opgelos word. “Ons waardeer die ondersteuning van huurders, inkopiegangers en die breër publiek,” sê Henning

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article