A crisis is still brewing in the SA red meat industry with more outbreaks of foot and mouth disease at Africa’s biggest beef supplier, Karan Beef.
Die bek-en-klouseer-krisis bly uitkring.

In afwagting op die staatsrede op Donderdag 12 Februarie, verwag lede van die landbouorganisasie Vrystaat Landbou (VL) dat pres. Cyril Ramaphosa die bek-en-klouseer-krisis trompop sal loop.

“Suid-Afrika het eens wêreldgehalte laboratoriumtoetsing en entstofvervaardigingsvermoë gehad,” sê Francois Wilken, president van die VL.

“Tog, op die hoogtepunt van ‘n nasionale uitbreking laat in 2025, het die land meer as ses weke sonder toegang tot entstowwe deurgegaan, terwyl miljoene geskikte dosisse glo internasionaal beskikbaar was.

“Terselfdertyd het staatslaboratoriums agter geraak, met toetsvertragings wat tot twee weke kon strek. Tydens ‘n vinnig bewegende uitbreking is ‘n twee weke lange vertraging nie ‘n tegniese probleem nie, maar ‘n sistemiese mislukking,” sê Wilken.

Gevalle van bek-en-klouseer kom nou reeds oor die hele Vrystaat voor, met meer as 290 gevalle wat op 6 Februarie aangeteken is.

LEES OOK: Landbou in ‘n wurggreep oor bek-en-klouseer

Die organisasie sê die gevolge van bek-en-klouseer is ernstig: geldelike verliese wat miljarde beloop, toenemende angs onder produsente, ontwrigte markte, en groeiende bedreigings vir voedselveiligheid en landelike bestaansmiddele.

Wilken beklemtoon dat die boeregemeenskap verwag dat die president ‘n duidelike en beslissende nasionale herstelplan sal voorlê wat dringende kapasiteit beskikbaar sal stel aan die departement van landbou met veeartse, dieregesondheidstegnici, operasionele finansiering, entstowwe, toerusting en logistiek.

Die VL vra ook die onmiddellike uitbreiding van laboratoriumkapasiteit; insluitend die goedkeuring van bekwame private laboratoriums om toetsagterstande uit te skakel. Ook, die vinnige hersiening en implementering van regulasies in ooreenstemming met kundige aanbevelings, met ‘n einde aan burokratiese verlamming.

Daar word gevra dat bewegingsbeheer streng deur die polisie afgedwing sal word, met betekenisvolle gevolge vir almal wat die regulasies nie nakom nie.

“Ons vra ook die verantwoordelike opening van entstofverkryging en siektebestuur vir privatesektordeelname onder behoorlike toesig; en ‘n geloofwaardige strategie om die virus terug in die rooi sone te dryf, dit daar te bevat, en Suid-Afrika se uitvoergeloofwaardigheid te herstel.”

Friedl von Maltitz, die vise-president van die VL, voeg by dat “dit nie oor politiek gaan nie”.

“Dit gaan oor oorlewing. As die regering nie met dringendheid en samehang kan optree in die aangesig van ‘n biosekuriteitskrisis van hierdie omvang nie, sal die gevolge ver buite plase strek; na voedselpryse, indiensneming, handel en die stabiliteit van landelike Suid-Afrika.”

LEES OOK: Veteran veterinarian removed from foot-and-mouth task team over confidentiality dispute

Die VL bevestig dat boere gereed is om met die regering saam te werk.

“Ons sal nie voortgesette onaktiwiteit, vertragings of administratiewe verskonings aanvaar terwyl lewensbestaan vernietig word nie,” sê Wilken.

Die departement van landbou sê ‘n beperking op beweging nie meer as 10km vanaf plase waar diere siek is, is ingestel; en plase met beeste wat aan die siekte ly, is onder kwarentyn geplaas. Alle boere in die omgewing is in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir die verspreiding van bek-en-klouseer.

Landbouers word aangemoedig om moontlike gevalle by die naaste staatsveearts aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article