AfriForum se personeel laai vullis op.
AfriForum se personeel laai vullis op.

Terwyl vullisverwyderingsdienste in die Mangaung-metro weer erg agterstallig raak, is daar oplossings aangebied wat deur die metro van die hand gewys is.

Christo Groenewald AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê dié organisasie het al vantevore formeel voorgestel dat vullisverwyderingsdienste in die Mangaung-metro aan AfriForum oorgedra word deur middel van ’n diensleweringsooreenkoms, vennootskap of ’n ander wettige meganisme.

“Die organisasie beskik oor die nodige kapasiteit, infrastruktuur en gemeenskapsnetwerke om hierdie diens doeltreffend en verantwoordbaar in belang van inwoners te lewer.”

AfriForum se vullisverwyderingsvoertuig. FOTO: Lientjie Mentz
AfriForum se vullisverwyderingsvoertuig. FOTO: Lientjie Mentz

AfriForum het op Vrydag 23 Januarie ’n formele klagte by die Mangaung-metro ingedien oor die munisipaliteit se jarelange en voortdurende versuim om basiese vullisverwyderingsdienste aan inwoners en ondernemings in dié metro te lewer. Die organisasie doen nou ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie probleem so gou moontlik op te los.

Luidens AfriForum se brief aan die munisipaliteit het vullisverwydering in verskeie Bloemfonteinse voorstede – waaronder Langenhovenpark, Universitas en Wilgehof – óf heeltemal tot stilstand gekom óf vind dit ongereeld en onbetroubaar plaas. Hierdie situasie het reeds gelei tot ernstige gesondheidsrisiko’s, omgewingsbesoedeling, verslegtende lewensomstandighede en beduidende negatiewe gevolge vir plaaslike ondernemings.

Dirk Kotzé, DA-raadslid sê dié party het reeds 13 Januarie gevra dat vullis wat by huise ophoop en ernstige gesondheidsgevare veroorsaak, verwyder word.

“Ons het geen antwoord van die burgemeester gekry nie.”

Kotzé sê dit is in skrille kontras met die uitvoerende burgemeester Gregory Ntatisi se openbare optrede saam met die Chinese Konsulgeneraal waar toerusting in ontvangs geneem is.

“Terwyl goeie samewerking met ander partye van groot belang is, kan dit nie gebeur ten koste van noodsaaklike dienste soos vullisverwydering nie.”

Hy sê die agterstallige diens word glo toegeskryf aan oortyd-dispute, diesel-tekorte en die vullisverwyderingsvoertuie wat dikwels onklaar raak.

“Inwoners betaal die koste van hul swak beplanning, swak vlootbestuur en operasionele onstabiliteit.”

Groenewald sê boonop betaal inwoners munisipale tariewe en heffings vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie.

“Die voortgesette versuim om vullis te verwyder is nie net onaanvaarbaar nie, maar onwettig. Die munisipaliteit versuim om een van sy mees basiese verantwoordelikhede na te kom met ernstige gevolge vir gemeenskap.”

Terwyl die Mangaung-metro sukkel om basiese dienslewering aan die gemeenskap te verskaf, lewer AfriForum se vullisverwyderingsdiens reeds daagliks dienste aan gemeenskapslede wat daarop ingeteken het.

AfriForum het Sello More, die munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, in die klagte versoek om dringend skriftelik aan te dui watter onmiddellike stappe geneem sal word om die vullisverwyderingskrisis te takel én versoek dat die munisipaliteit met AfriForum in gesprek tree oor alternatiewe oplossings tot dienslewering.

Indien geen bevredigende reaksie spoedig van ontvangs van hierdie klagte ontvang word nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg in belang van die betrokke gemeenskappe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article