Talle inwoners van die Mangaung-metro is gefrustreerd oor foutiewe inligting oor water op hul munisipale rekeninge.
Paul Kotze, DA-wyksraadslid, sê die DA gaan formeel met munisipale amptenare in gesprek tree om te verseker dat elke huishouding in Mangaung ‘n funksionerende voorafbetaalde watermeter het en dat inwoners tydige, akkurate inligting oor fakturering en waterverbruik ontvang.
“Ons eis dringende optrede van die munisipaliteit om alle stukkende en omseilde voorafbetaalde watermeters te vervang en te verseker dat inwoners teen onverwagte en onbillike finansiële laste beskerm word,” sê Kotze in ‘n nuusverklaring.
“Die munisipaliteit se onlangse instelling van ‘n tydelike maandelikse heffing van R332,95 plus BTW, wat 12 kiloliter water dek vir huishoudings met wanfunksionele of omseilde meters, is bedoel om te verhoed dat inwoners groot teruggedateerde rekeninge ontvang sodra nuwe meters geïnstalleer is.
“Hierdie goedbedoelde maatreël ontbloot egter weereens die ANC-geleide munisipaliteit se voortdurende versuim om beleide doeltreffend binne die gemeenskap te beplan, te kommunikeer en te implementeer,” sê Kotze.
Hy sê die munisipaliteit het versuim om met inwoners te kommunikeer en hulle voor te berei met duidelike kennisgewings of gedetailleerde verduidelikings van hierdie nuwe reëling.
“Selfs ‘n eenvoudige beleid, soos die instelling van ‘n vaste koers, is vasgevang in ondoeltreffendheid, swak beplanning en onvoldoende uitvoering.”
Hy sê inwoners word verward gelaat, onseker oor hul verpligtinge en blootgestel aan onnodige koste.
“Hoewel die vaste tarief self nie ‘n probleem is nie, beklemtoon dit die jarelange onsekerheid van inwoners oor hul waterrekeninge. Talle huishoudings is onseker gelaat wanneer en of hul foutiewe of omseilde meters vervang sal word, wat hulle kwesbaar maak vir onverwagte koste. Hierdie munisipale ondoeltreffendheid beïnvloed inwoners se geldelike stabiliteit direk en dra by tot frustrasie en angs, veral vir diegene met beperkte inkomste wat nie skielike heffings kan absorbeer nie,” sê Kotze.
Die kwessie word vererger deur die munisipaliteit se voortdurende onvermoë om waterverbruik te moniteer; deel van ‘n breër probleem van 49% drinkwaterverlies in Mangaung oor dekades van ANC-wanbestuur.
Kotzé sê die gebrek aan behoorlike toesig en instandhouding verminder nie net munisipale inkomste nie, maar stel ook watersekerheid vir alle inwoners in gevaar, wat die waarskynlikheid van inwoners wat te veel betaal en vermorsing verhoog.
“Vir die gemeenskap lei dit tot onnodige geldelike stres, onsekerheid oor waterbeskikbaarheid en verminderde vertroue in plaaslike bestuur. Ons sal voortgaan om te pleit vir verbeterde beplanning, duidelike kommunikasie en effektiewe implementering van munisipale beleide in Mangaung-metro,” sê hy.





