BLOEMFONTEIN – Skote is na bewering geskiet en ‘n man is noodlottig gewond in ‘n voorval wat net voor 14:30 in Wilgehof in Bloemfontein plaasgevind het.
Bure het Woensdagmiddag verslae rondgestaan toe hulle hoor van die voorval in Abraham Greylingstraat 3A waarin die inwoners betrokke was. Veiligheidspersoneel en polisie was kort ná die gebeure op die toneel en die polisie ondersoek die voorval.
Volgens ‘n familielid het ‘n man (57) skote na ‘n jong man (18) geskiet, waarna hy homself geskiet het.
Kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ‘n skietvoorval ondersoek word.
Sy sê die polisie doen nou ‘n geregtelike doodsondersoek en ondersoek ‘n poging tot moord.

Earle sê ‘n noodoproep is om ongeveer 14:26 vanaf die adres aangemeld. Noodpersoneel, privaat sekuriteitsmaatskappye en die polisie is na die toneel ontbied.
Volgens inligting het ‘n 57-jarige man na bewering verskeie skote in die rigting van ‘n 18-jarige individu gevuur, maar gemis. Daar word verder beweer dat die man die vuurwapen toe op homself gedraai het en hom met ‘n rewolwer geskiet het in die teenwoordigheid van ‘n 20-jarige vrou wat op die perseel was.
Paramedici het op die toneel aangekom en Eddie Lutzke (57) is bewusteloos op die perseel aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die voorval. Geen ander beserings is aangemeld nie.
LEES OOK: Three life sentences for Wilgehof killer; co-accused acquitted





You must be logged in to post a comment.