Drie Bloemfonteinse vlieëniers vier vanjaar 50 jaar se vlieg.
Drie Bloemfonteinse vlieëniers vier vanjaar 50 jaar se vlieg. FOTO: Lientjie Mentz

Vlieëniers van Bloemfontein ná 50 j. nog vry in lug

,

Drie Bloemfonteiners wat elk al 50 jaar lank vlieg, is deur die Bloemfontein-vliegklub op ‘n geselligheid vereer.

Lucas Wiese, Frans Nel en Kassie Kasselman het heel toevallig al drie in 1976 begin vlieg en geniet ná al die jare die vryheid wat vlieg bied.

“Dit is deel van my lewe,” vertel Kassie wat in 1976 vir die lugmag se reserwemag begin vlieg het.

“Vlieg is vir my soos ‘n tonic. Dit maak nie saak hoeveel druk daar in jou lewe is nie, as jy in die vliegtuig klim en daar hoog bo vlieg, kyk jy af en sien hoe klein alles is.”

Lucas Wiese, Kassie Kasselman en Frans Nel by Lucas se ligte vliegtuig by Tempe-lughawe.  FOTO: Lientjie Mentz
Lucas Wiese, Kassie Kasselman en Frans Nel by Lucas se ligte vliegtuig by Tempe-lughawe. FOTO: Lientjie Mentz

Hy sê nie net gee dit jou kalmte en perspektief nie, dit is baie waardevol vir sakelui om te vlieg en so tyd te spaar.

“Jy knip ‘n reis van agt uur maklik tot twee as jy met ‘n ligte vliegtuig vlieg,” sê hy.

Frans Nel het al baie avonture beleef met kliënte soos wyle Boet Troskie wat hy gereeld oorsee moes vlieg.

Kassie Kasselman by sy Piper Arrow 4 ZS KTA. FOTO: Verskaf
Kassie Kasselman by sy Piper Arrow 4 ZS KTA. FOTO: Verskaf

“Ek het ‘n hele paar keer Amerika toe gevlieg. Ek geniet dit steeds baie om te vlieg,” vertel hy.
Hy was oor die jare ook nou betrokke by die valskermklub asook die sweefklub en het begin as sweeftuigvlieënier.

Natuurlik was daar ook enkele noue ontkomings, soos die keer toe Lucas opgestyg het vanaf Tempe en die Piper Tri-Pacer waarmee hy gevlieg het, se enjin uitgesny het. “Dit was my eerste noodlanding.”

Hy het ook in die jare 1970 vir sowat ses jaar valskerm gespring en jare daarna weer vir ‘n ruk dit as stokperdjie beoefen.

Die Bloemfontein-vliegklub by Tempe-lughawe. FOTO: Lientje Mentz
Die Bloemfontein-vliegklub by Tempe-lughawe. FOTO: Lientje Mentz

Lucas het vier keer aan die Presidentstrofee-wedvlugte deelgeneem – een daarvan in die vinnigste tyd.

Kassie was sedert 1988 tot 2018 betrokke by die reël van die Presidentstrofee-wedvlugte.

In 2018 was hy op die Bloemfontein-vliegklub se komitee wat die laaste wedvlug hier in die stad gereël het.

Hy sê vlieg en vliegtuie vorm ‘n groot deel van sy lewe en hy herbou steeds vliegtuie. “Om in beheer van ‘n ligte vliegtuig te wees, verg dissipline en verantwoordelikheid.”

Die drie stem saam datDit is lekker om te kan terugkyk oor 50 jaar in die lugvaart.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article