Daar is groot verligting ná die verrassende besluit op die Mangaung-metro se raadsvergadering op Maandag 29 Junie om nie die basiese maandelikse tarief van R50 op elektrisiteit te hef nie.
Inwoners sou van 1 Julie af die verhoogte maandelikse tarief op elektrisiteit, sowel as die duurder wintertarief moes betaal. Bykomend daartoe het Centlec ‘n R50 basiese maandelikse fooi ingestel.

Die raadsvergadering wat gister 12:00 begin het, het eers omstreeks 01:30 tot ‘n einde gekom. Daar was ‘n agenda met baie punte, maar die eerste twee ure is bestee om punte op die agenda rond te skuif.
DA-raadslid Selmé Pretorius sê ‘n nuwe agenda is eers laatnag omstreeks 22:00 uitgedeel. Daarop het die burgemeester Gregory Nthatisi voorgestel dat die basiese fooi van R50 op elektrisiteit tydelik geskrap word. Hy sê daar moet eers groter openbare deelname en ‘n opvoedkundige proses wees voordat die fooi ingestel kan word.
Also read: Centlec concerned about call for mass action against R50 charge.
Die DA het vandag in ‘n verklaring gesê dat hulle die stap sien as ‘n oorwinning vir elke inwoner wat teen die stap beswaar gemaak het.
Dit is duidelik dat die massa-aksie wat vir Woensdag 1 Julie teen Centlec beplan is, asook die openbare teenstand teen die fooi, by die regte ore uitgekom het.
Centlec se woordvoerder Tseliso Leba het verlede week in ‘n nuusverklaring gesê Centlec neem kennis van die boodskap wat mense aanmoedig om deel te neem aan ‘n optog teen Centlec.
Die betoging is gereel vir Woensdag om 09:00 by Cenlec se kantore op die hoek van Harvey- en Fortstrate in Oranjesig.
Die R50-heffing sou van toepassing gewees het op huishoudelike gebruik en R322 per maand vir ondernemings wat voorafbetaalde krag gebruik.





You must be logged in to post a comment.