‘n Gastehuis van Bloemfontein is vanaand op kykNET In die Sop.
Annalie van der Merwe, eienaar van A Little Guest House in Groenvlei, sê sy was “regtig in die sop” en die besoek van die span van die werklikheidstelevisiereeks kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie.
Die gastehuis vier vanjaar sy tiende bestaansjaar.

“Hierdie is die huis waarin ek al 40 jaar woon. In 2016 het ek kamers ingerig en geleidelik die gastehuis en onthaalstoep uitgebrei tot wat dit vandag is.”
Ongelukkig het die Covid-tydperk gastehuise hard getref en Annelie wat afhanklik is van die inkomste van A Little Guesthouse, was einde verlede jaar uiters moedeloos.
“Ek het na Bertus Basson se TV-reeks In die Sop gekyk waar hy restaurante wat in die moeilikheid beland, help en het hom probeer kontak om te vra of hulle nie ‘n reeks oor gastehuise kan doen nie.”
Toe sy hoor dat daar wel ‘n nuwe reeks is van In die Sop met ‘n fokus op die regruk van gastehuise, het sy ingeskryf.

Die bekende TV-persoonlikheid Janie du Plessis en haar span het toe dié gastehuis onderhande geneem en veranderings aangebring.
Annalie sê dit was ‘n wonderlike ondervinding en Janie het haar baie wenke gegee.
Kyk vanaand om 20:00 na In die Sop op kykNET (kanaal 144) hoe Annalie se A Little Guesthouse binne drie dae ‘n transformasie ondergaan het danksy Janie en haar span.





You must be logged in to post a comment.