Bloemfontein se tennisliefhebbers kan uitsien na ‘n unieke sportgeleentheid wanneer die derde Bloembledon buite Bloemfontein aanbied word.
Die prettige tennistoernooi deur Wolf Pack Tennis Akademie word op 18 Julie op die Marieko Estate in Bainsvlei gehou.

Ywerige tennisspelers kan hulle nou vir hierdie toernooi inskryf.
Natuurlik val die tennistoernooi saam met die wêreldbekende Wimbledon-tennistoernooi, met ‘n plaaslike toernooi wat op grasbane gespeel word.
Iets wat min Suid-Afrikaanse tennisspelers al ooit die kans gekry het om te ervaar.
Die doel van die toernooi is nie net om mededingende tennis aan te bied nie, maar ook om tennis in die Vrystaat verder te ontwikkel en meer mense by die sport betrokke te kry.
Dawid van Niekerk, hoofafrigter en eienaar van Wolf Pack Tennis Akademie, is passievol daaroor om tennis toeganklik en opwindend vir spelers van alle ouderdomme te maak.
“Bloembledon gee ons die geleentheid om iets besonders vir Bloemfontein se tennisgemeenskap aan te bied en terselfdertyd die unieke tradisie van grasbaan-tennis te vier,” sê Van Niekerk.
Op die geleentheid sal junior- en seniorspelers kan meeding, en daar is ook afdelings vir gemengde dubbelspel vir volwassenes.
Benewens die tennisaksie, sal besoekers ook kos, koffie en aarbeie en room by Marieko Landgoed kan geniet.
“Ons wil vir spelers die geleentheid gee om iets anders te beleef. Grasbaan-tennis het ’n unieke karakter en geskiedenis, en Bloembledon bring daardie Wimbledon-gees na Bloemfontein.”
Benewens opwindende wedstryde, sal deelnemers en toeskouers deur die dag kans staan om weggeepryse te wen. Daar sal ook pryse wees vir die beste spelers in die onderskeie afdelings, asook ’n spesiale prys vir die deelnemer met die beste Wimbledon-geïnspireerde tenniskleredrag.
Juniors kan deelneem in afdelings vir o.9, o11 en o.13, 14 tot 18 jaar asook volwassenes in dubbelspel en gemengde dubbelspel.
Inskrywings beloop R600 vir senior dubbelspan en R400 vir ‘n junior speler.
Registrasie begin die oggend om 07:30.







You must be logged in to post a comment.