Tydens die skoolvakansie het 38 sorgverlaters vanuit jeugsorgsentrums oor die Vrystaat heen deelgeneem aan ‘n unieke en lewensveranderende sorgverlaterskamp.

Die kamp fokus daarop om jongmense voor te berei, toe te rus met noodsaaklike lewensvaardighede en selfvertroue om suksesvol hul eie pad vorentoe te stap. Hulle moet die jeugsorgsentrums verlaat omdat hulle 18 word. Deelnemers het tydens die kamp opleiding en blootstelling ontvang aan verskeie kernaspekte van onafhanklik leef, insluitend begrotingsvaardighede deur middel van ‘n praktiese “Care Leavers Currency”-aktiwiteit, gesonde verhoudings, asook werksplekvoorbereiding en toepaslike werksetiek.

As deel van die program is die jongmense by 23 verskillende werksplekke geplaas, waar hulle praktiese ervaring opdoen in velde soos maatskaplike werk, verpleging, rekeningkunde, administrasie, regswese, die weermag, kleinhandel en die gasvryheidsbedryf.

Hierdie blootstelling help om hul vaardighede te ontwikkel en brei hul toekomsgeleenthede uit.

Die kamp het ook gefokus op hoop en deursettingsvermoë. Tydens ‘n spesiale “Stories of Hope”-sessie het voormalige sorgverlaters hul persoonlike ervarings gedeel en jongmense geïnspireer met hul suksesverhale.

In twee gevalle het die jongmense permanente werk bekom by organisasies waar hulle tydens vorige kampe geplaas is.

Die volgende sorgverlaterskamp vind in September 2026 plaas. Individue en ondernemings wat belangstel om betrokke te raak of by te dra, word aangemoedig om kontak te maak met Elmarie Els-Hamman, maatskaplike werker by die Engo-jeugsorsentrums. Kontak haar by 079 599 4135.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article