BLOEMFONTEIN – Eenhonderd jaar gelede het 80% van die Suid-Afrikaanse ekonomie bestaan uit die vervaardighing van produkte wat landbou en mynbou ingesluit het en minder as 20% uit dienste.

Vandag beslaan die dienste-sektor sowat 80% van Suid-Afrika se ekonomie.

Só het die bekende ekonoom Dawie Roodt Donderdag 18 Junie op ‘n sake-ontbyt van die AfriForum Sakenetwerk in Bloemfontein gesê.

Dawie Roodt op AfriForum Sakenetwerk se Bloemfontein-tak se sake-ontbyt op Donderdag 18 Junie.
Op AfriForum Sakenetwerk se Bloemfontein-tak se sake-ontbyt op Donderdag 18 Junie, was van links Elrike Viljoen (Akademia), Dawie Roodt (gasspreker), Marisa Kruger (voorsitter: Bloemfontein AfriForum Sakenetwerk), Corné Cronje en Mirna Butler. FOTO: Lientjie Mentz

Met dit in gedagte, sê hy mense met besteebare inkomste wil ervarings hê. “Mense met geld wil nie noodwendig nog goed hê nie, maar hulle wil ervarings beleef. Hierin lê baie geleenthede vir ondernemings. ‘n Rekenaar sal nooit jou hand kan vashou nie.”

Hy sê wanneer ‘n mens oor ‘n lang termyn kyk, word goed al goedkoper terwyl die prys van goeie diens styg. “Ons sit aan die vooraand van ‘n tegnologie-ontploffing. Die mense wat die grootste voordeel hieruit gaan trek, is die mense wat nou kapitaal instoot in die ontwikkeling van tegnologie.”

Wat die plaaslike verkiesings later vanjaar betref, glo hy mense oral begin besef dat dinge moet verander. “Die ekonomie gaan nie verander solank as wat die ANC aan bewind bly nie. Daarvoor is daar te veel rompslomp, onbevoegtheid en korrupsie. Die skade wat dit aan die Suid-Afrikaanse ekonomie doen, is onbeskryflik.”

Roodt sê twee van die probleme waaraan Suid-Afrikaanse belastingbetalers die meeste opdok, is die salarisse van sowat 2 miljoen ‘oorbetaalde’ staatsamptenare en tenderpreneurs. “Dit, terwyl 28 miljoen van Suid-Afrika se 65 miljoen inwoners van staatstoelae afhanklik is.”

Hy sê mense wat ‘n goeie en veilige lewe wil hê, wag nie vir die staat om dit te doen nie. “Hulle sorg vir hul eie veiligheid, elektrisiteit en opvoeding. Met ‘n rekenaar en goeie internetverbinding kan jy ‘n goeie werk doen.

“Sorg dat jou kinders goed gekwalifiseer is en moenie bekommerd wees oor wat hulle oor tien jaar gaan studeer nie. Die name van dit wat hulle gaan studeer, bestaan nog nie eers nie.”

Hy het ondernemings aangemoedig om mekaar te ondersteun soos wat in sakenetwerke soos Afriforum Sakenetwerk gedoen word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article