‘n Bloemfonteinse apteker het ‘n top-eerbewys van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad ontvang vir haar bydra tot die beroep en pasiëntsorg.
Dr Martlie Mocke-Richter is op die vereniging se Nasionale Aptekerskonferensie se gala-dinee op 13 Oktober in die Durban Internasionale Konferensiesentrum met die Nasionale Pioniers Farmakologiese Professionele Eerbewys vereer. Sy het ook ‘n eerbewys ontvang in die kategorie vir Openbare Sektor Institutionele Apteker.

Sy verenig akademiese uitnemendheid, diepgaande kliniese kundigheid en visionêre leierskap met die seldsame vermoë om wetenskaplike kennis in praktyk te omskep en betekenisvolle verbeterings in pasiëntsorg in Suid-Afrika te bewerkstellig.
Die Bloemfonteinse apteker se loopbaan verbind kliniese farmasie, navorsing en professionele leierskap met ’n doel wat elke Suid-Afrikaner raak – die veilige, verantwoordelike en doeltreffende gebruik van medisyne.
ALSO READ: Ask your pharmacist.
Haar bydrae tot kliniese farmasie sluit jare se betrokkenheid by multidissiplinêre hospitaalsaalrondtes in. In dié rol het sy saam met dokters, verpleegkundiges en ander gesondheidswerkers pasiënte se medisynebehandeling beoordeel, dosisse help optimaliseer en medisyneverwante risiko’s geïdentifiseer. Hierdie ervaring vorm ’n belangrike grondslag vir haar voortgesette bydrae tot veilige medisynegebruik en antimikrobiese rentmeesterskap.
Sy verduidelik antimikrobiese rentmeesterskap bevorder die verantwoordelike gebruik van antibiotika en ander antimikrobiese middels. Dit behels onder meer die keuse van die regte middel, dosis en behandelingsduur om doeltreffende behandeling te ondersteun en die ontwikkeling van weerstand te help beperk.
Mocke-Richter het ’n meestersgraad in Farmasiepraktyk met lof en ’n doktorsgraad in Kliniese Farmakologie verwerf. Haar wetenskaplike bydraes strek oor landsgrense en sluit internasionale publikasies, voordragte by internasionale kongresse, deelname aan internasionale panele vir deskundiges en bydraes tot nasionale verslae oor antimikrobiese weerstand in.
Sy het op verskeie provinsiale en nasionale komitees gedien, waaronder die Ministeriële Advieskomitee oor Antimikrobiese Weerstand en Antimikrobiese Rentmeesterskap. Sy neem ook as ’n Suid-Afrikaanse kampioen deel aan die Commonwealth Pharmacists Association se AMS Champions-program.
In 2024 is sy met ’n Fellowship van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika vereer ter erkenning van haar besondere bydrae tot die beroep. Sy dien tans op die vereniging se Nasionale Uitvoerende Komitee en is voorsitter van die Vrystaatse tak.
“Hierdie dubbele erkenning is ’n besondere eer en die verwesenliking van ’n lank gekoesterde droom. Bo alles is dit net genade, en my hart is vol dankbaarheid teenoor die Here,” sê Mocke-Richter.
“Dit is ook ’n erkenning van die belangrike rol wat aptekers speel om wetenskaplike kennis in veiliger behandeling, beter gesondheidsuitkomste en betekenisvolle verandering in pasiënte se lewens te omskep.”






You must be logged in to post a comment.