‘n Groep ywerige vroue van Bloemfontein het wol wat geskenk is, omskep in pragtige truie vir behoeftige kinders.
Die groep vroue van die Welgedacht-aftreeoord in Fauna wat hulself die Knitty Gritters noem, het truie vir kinders van alle ouderdomme gebrei.

Belinda van der Vliet, bestuurder van Therapéa Kidz, wat names die 32 meisies van dié kinderhuis van die truie in ontvangs geneem het, was verstom om die prag van die “kunswerke” te sien.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die vlytige vingers wat sulke mooi truie gebrei het nie.
“Hierdie truie is tasbare voorbeelde van hoe mense Jesus se liefde vir mekaar gee.”

Die wol is geskenk deur John Melvillle wat dit vroeër namens OVK aan die breiklub oorhandig het. John sê dit is nou al baie jare waarop OVK wol aan die breiklub skenk.
Corrie van Heerden van Welbedacht, wat die poging koördineer en ‘n geselligheid op Dinsdag 9 Junie by die aftreeoord gereël het, sê die vroue wat so fluks brei is almal tussen 80 en 90 jaar of ouer.
“Ons is so dankbaar vir die skenking van wol. Ons het tyd en die vaardigheid om te brei, maar die uitdaging is om wol te kry.”
Die groep vroue is ook al baie jare betrokke by Bloemskou se back-to-back-projek waar hulle wys hoe wol wat van ‘n skaap geskeer word, in ‘n mooi produk gebrei word.

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou asook Alicia van Heerden, organiseerder van die Kreatiewe Handwerk en Kunsafdeling by Bloemskoiu, het ook die oggend bygewoon.
Bloemskou reël elke jaar ‘n projek saam met BloemNuusExpress waaraan enigeen kan deelneem om gebreide produkte te maak en te skenk sodat dit aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig kan word.
OVK asook Johan van Aswegen het reeds weer wol geskenk vir nog so ‘n projek volgende winter.







You must be logged in to post a comment.