Nuwe boere gesoek vir Boer soek 'n Vrou reeks 19.
Nuwe boere gesoek vir Boer soek ‘n Vrou reeks 19.

Boere wat hul pasmaats soek, kan nou inskryf vir TV-reeks


Met die 18de seisoen van  kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou nou in volle swang, is die vervaardigers reeds op soek na boere vir die 19de seisoen. 

As jy enkellopend is en gereed is om plek in jou lewe – én op jou plaas – vir liefde te maak, is dit nou jou beurt om die kans te waag. Sedert die reeks in 2007 vir die eerste keer uitgesaai is, het dit immers al tot tientalle huwelike en nuwe generasies jong boertjies gelei. 

Reandi Grey, die aanbieder van Boer soek 'n vrou.
Reandi Grey, die aanbieder van reeks 18 van Boer soek ‘n vrou. FOTO: Gys Loubser

Hoewel die huidige seisoen wat op kykNET uitgesaai word, se top-5 boere om verskillende redes ingeskryf het, deel hulle dieselfde wens: om iemand te ontmoet met wie hulle ’n toekoms kan bou en die plaaslewe kan deel.

“Ek het ingeskryf omdat ek op ’n plek in my lewe is waar ek regtig gereed is om ’n maat te ontmoet saam met wie ek ’n toekoms kan bou,” sê Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen in Limpopo.

“Ek glo Boer soek ’n vrou is ’n uitstekende platform om iemand te ontmoet wat al daardie kwaliteite het en tog gelukkig sal wees om by my lewensomstandighede te kan inpas,” sê Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit in Mpumalanga.

“Die plaas is nie net my werk nie – dis my leefwyse, my passie en my tuiste,” sê JD (28), van ’n gemengde boerdery by Reitz in die Vrystaat.

“Ek wil graag myself vestig op die nuwe plaas met ’n beste vriendin. En die program lyk boonop soos groot pret,” sê Jack (30), ’n appel- en peerboer van Hermanus in die Wes-Kaap.

“Ek het al lank genoeg gedreig om in te skryf, maar die geleentheid was nog nooit reg nie – nou is dit. Ek was nog nooit getroud nie, en dis tyd dat iemand deel in hierdie wonderlike lewe wat ek beplan en waaraan ek gebou het,” sê Willie (37), ’n bees- en mielieboer van Harrismith in die Vrystaat.

Saam wys hul stories dat nie een van hulle vir dieselfde redes ingeskryf het nie, maar hoofsaaklik gaan dit daaroor dat boere meer as bereid is om hul hart en lewe vir ’n moontlike pasmaat oop te maak. 

Klink dit soos iets waarna jy ook smag?

Só kan boere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel: 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com

Belangrike inligting:

  • Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.
  • Inskrywings sluit om middernag op 9 September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article