Bloemfonteiners kan op Vrydag 3 April ‘n unieke geleentheid om ‘n uitvoering by te woon wat die ryke teksture van die Afrikaanse kunslied laat opklink.
Die Karoo Kunslied word spesiaal na die stad gebring nadat dit op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn op die verhoog was.

Die uitvoering is ‘n werk deur bariton Chris Vale; die Naledi-benoemde sanger en akteur Klaus-Louis Jansen van Vuuren; en die pianis Eugene Joubert.
Terwyl die aard van die Karoo-landskap voorheen binne katedraalagtige sale verken is, vind die uitvoering nou ‘n nuwe, intieme tuiste onder die koepel van die heelal in die Naval Hill-planetarium.
Dit bied ‘n seldsame geleentheid waar Afrikaanse lirieke met die kosmiese skoonheid van die Vrystaatse naghemel verweef word.
Die Karoo Kunslied is nie bloot ‘n konsert nie, maar ‘n verkenning van Afrikaans se musikale erfenis.

Van die tydlose poësie van Leipoldt en Boerneef, tot die moderne meesterskap van Franco Prinsloo en die diep nostalgie van “Kinders van die wind”; die program wissel tussen die klassieke kunslied en geliefde luisterliedjies.
Die Karoo Kunslied omskep die natuur in ‘n emosionele terrein van identiteit en herinnering. Sonder die gewoel van ‘n orkes, fokus hierdie weergawe op die gestroopte, eerlike skoonheid van stem, klavier en vertelling.
Die uitvoering, wat deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater moontlik gemaak word, vind op Vrydag 3 April om 19:00 in die Naval Hill-planetarium plaas.
Kaartjies kos R120 op heyzuva.com.Kaartjies is beperk met slegs een vertoning in Bloemfontein.






