BLOEMFONTEIN – Die Mangaung-metro het vanmiddag (5 Junie) in ‘n nuusverklaring laat weet dat vullisverwydering wat sedert middel Mei nie plaasgevind het nie, sedert 2 Junie voortgesit word.
Inwoners van die Mangaung-metro is nou al vir drie twee weke sonder betroubare vullisverwydering. Vullissakke hoop op voor huise, in strate en op sypaadjies en die reuk versprei deur die woonbuurte, terwyl rondloperkatte en voëls sakke stukkend pluk en vullis rondwaai.
AfriForum doen opnuut ’n beroep op die Mangaung-metro om dringend ’n proses goed te keur wat inwoners sal toelaat om gebruik te maak van privaat vullisverwyderingsdienste sonder om ook vir die metro se onbetroubare vullisverwydering te betaal.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, sê die metro se voortgesette onvermoë om vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein behoorlik te lewer nie, is meer as net ’n diensleweringsprobleem. Dit is ’n krisis wat inwoners se lewensgehalte en die gesondheid van die omgewing aantas.
Die metro het laat weet dat die arbeidsverwante sake wat voorkom het dat munisipale werkers van 29 Mei tot 1 Junie hul werk kan doen, opgelos is.
Nicolette Maysels, waarnemende hoof van die metro se kommunikasie-afdeling, sê in ‘n verklaring die afdeling vir vullisverwydering werk nou aktief oor die stad heen om die agterstand in te haal. “Die metro erken dat die staking van vullisverwydering inwoners, ondernemings en gemeenskappe in hierdie tyd erg veronrief het, en vra om verskoning daarvoor.” Sy sê daaglikse skedules oor vullisverwydering sal aangepas word totdat die vullisverwyderingsprogram weer normaliseer.
Tjaart van Der Walt, DA-raadslid, sê dié party het navrae aan die metro gerig oor die redes vir die agterstand.
“Die ineenstorting van vullisverwydering is nie meer ‘n ongerief nie. Dit het ‘n daaglikse herinnering geword aan ‘n munisipaliteit wat nie een van sy mees basiese verantwoordelikhede nakom nie.
“Inwoners regoor die stad verduur al byna drie weke vullis wat nie in residensiële gebiede opgeruim word nie. Intussen betaal inwoners steeds vir ‘n diens wat toenemend nie gelewer word nie.
Van der Walt sê die krisis het nie begin met die ontwrigtings van 25 en 26 Mei in die metro nie. “Agterstande, voertuigfoute, skedulefoute en kommunikasiefoute was reeds wydverspreid. Die onrus het bloot ‘n stelsel ontbloot en versnel wat reeds in verval was. Teen die einde van Mei het vullisverwydering in groot dele van Mangaung feitlik in duie gestort, met groeiende agterstande, herhaalde gemiste versamelings en toenemende frustrasie onder inwoners wat steeds betaal vir ‘n diens wat hulle nie ontvang nie.”
Van der Walt sê dit is nie meer ‘n vullisverwyderingsprobleem nie. Dit is ‘n bestuursprobleem. “Terwyl inwoners wag vir antwoorde, hoop rommel steeds in strate regoor Mangaung op.”
Te midde van die Mangaung-metro se versuim om dienste te lewer aan betalende inwoners, het AfriForum se vullisverwyderingsdiens in Mei vanjaar 75 ton vullis in Bloemfontein verwyder.
AfriForum meen die metro kan nie aanhou verwag dat inwoners vir ’n diens betaal wat nie betroubaar gelewer word nie. Waar die munisipaliteit nie sy plig nakom nie, moet inwoners die reg hê om van die betrokke tariewe vrygeskeld te word en van alternatiewe, betroubare dienste gebruik te maak.







You must be logged in to post a comment.