Die noordelike stortingsterrein.
Die noordelike stortingsterrein.

Groot verligting nadat hoë tariewe vir vullisverwyderaars aangepas is

, ,

Kontrakteurs wat daagliks die Mangaung-metro se stortingsterreine gebruik, is uiters verlig oor die aanpassings wat gemaak is ná hewige kritiek op die konsep-begroting wat hoë nuwe tariewe voorgestel het.

Van die kontrakteurs sê hulle is dankbaar vir die hulp van Braam Vorster van die VF Plus wat nie opgehou het om hul saak by die Mangaung-metro te dryf nie.

Vorster sê die VF Plus het ’n groot oorwinning vir Mangaung se sakegemeenskap en inwoners behaal deur buitensporige stortingsterrein-heffings af te weer.

Die weegbrug en kantoor op die noordelike stortingsterrein. Klagtes word gereeld oor die twee stortingsterreine van die Mangaung-metro gelug.
Die weegbrug en kantoor op die noordelike stortingsterrein. FOTO: Lientjie Mentz

Die metro se oorspronklike 2026/27-begroting het voorsien dat sekere ondernemings tussen R130 000 en R330 000 per maand aan stortingstariewe sou betaal – ’n onvolhoubare las vir kleinsake-eienaars. Kontrakteurs sou boonop tussen R150 en R700 per vrag vir algemene afval en tot R1 000 per vrag vir bourommel moes opdok.

Vorster sê hoewel dit verstaanbaar is dat tariewe nodig is vir die instandhouding en rehabilitasie van stortingsterreine, kan inwoners en ondernemings nie gedwing word om nóg meer te betaal terwyl die metro self versuim om infrastruktuur, weegbrûe en terreine te onderhou nie.

Ná volgehoue druk, openbare insette, formele besware en met hulp van die VF Plus is ‘n meer billike model beding

Eenmalige vragte van meer as 500kg is drasties verlaag, en inwoners of nie-geregistreerde gebruikers betaal nou slegs R30 in stede van R150 per vrag.

Vir kontrakteurs is bekostigbare maandelikse voertuigfooie ingestel wat die vorige per-vrag heffings vervang: bakkies betaal R250, bakkies met sleepwaens R450, bakkies met “skips” en vragmotors tot vier ton R650, en groter vragmotors R850 per maand.

Verder is ’n gefasseerde implementeringsplan oor vyf jaar ingestel om ondernemings kans te gee om aan te pas, met ’n 75%-afslag in die tweede jaar (2027/28). ’n Eenmalige registrasiefooi van R400 bied kontrakteurs toegang tot die laer tariewe en bevorder verantwoordelike afvalbestuur.

Vorster sê hierdie oorwinning bring verligting vir ondernemings én inwoners wat uiteindelik die prys betaal wanneer ondernemings onder onvolhoubare kostes gebuk gaan.

“Die VF Plus staan vir billike tariewe en volhoubare finansiële bestuur. Mangaung se inwoners verdien werklike dienslewering, nie nóg heffings op vervallende infrastruktuur nie,” sê Vorster.

‘n Woordvoerder van ‘n groep vullisverwyderaars sê die aangepaste bedrae is bekostigbaar.

“Ons is nog nie seker wanneer die nuwe tariewe geïmplementeer gaan word nie, want daar is nog werk aan die weegbûre at gedoen moet word. Maar ons is verlig oor die toegewings.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article