In 1986 gee my geliefde vir my “Idiolek”, op daardie stadium die jongste digbundel van T.T. Cloete, present. Voorin skryf hy: “Soos wat ‘n idiolek enige mens se unieke taalfafdruk is, is my wens dat jou ménsafdruk ook altyd uniek in ons lewe sal wees.”
Vier dekades later, met wavragte vol herinneringe uit ons lewe saam, jare van kinders grootmaak en tye wat winste én verliese toon, dink ek steeds dikwels terug aan daardie eerste geskenk van hom.
Wanneer ek daardeur blaai, lees ek die onthou van ‘n leeftyd raak, een van vorming en groei van unieke menswees deur die jare heen. En ek besef dat elke boek nie net sy eie storie vertel nie, maar inderdaad ook ‘n afdraaipad neem wat elke leser op sy eie onthoureis neem.
My eerste skooljare het hand aan hand geloop met Ma se voorlesings uit Alba Bouwer se “Stories van Rivierplaas”.
Ek het aan Ma se lippe gehang. Tog is dit enkele woorde wat my deur die jare bygebly het en wat my vandag dikwels op verskillende onthoupaaie, weg van Rivierplaas, neem. Steeds onthou ek die woord “toefelantat”, wat deur tant Lenie as ‘n “towerlantern” beskryf is. Al het dit na die destydse bioskoopvertonings verwys, het die towerlantern vir my deur my lewe verskillende betekenisse aangeneem. Dit het my geneem op droomreise ver hiervandaan, soms as ‘n rigtingwyser vir ontvlugting, soms as ‘n lig wat my gelei het na ‘n nuwe bestemming.
Vir my twee jong kinders het ek, 25 jaar gelede, kort na ons aankoms in Kanada, aan Engels blootgestel, met die lees van Anne of Green Gables, deels omdat die verhaal afspeel op Prince Edward Island, deel van hul nuwe land. Ook het ek my jongste se “tweede” storie raakgehoor toe sy onlangs vertel haar grootste onthou van daardie verhaal was die woorde: “It’s delightful when your imaginations come true, isn’t it?”
Min het ek geweet dat ek dertig jaar nadat ek, met die geboorte van ons kind “The little Prince” van my allerliefde ontvang het, hierdie troosboodskap uit die einste boek sou kry in my allerseerste tyd van verlies: “In one of those stars I shall be living. In one of them I shall be laughing.”




