Vriende, kennisse en ondernemings het al meer as R56 756 bygedra tot ‘n BackaBuddy-projek vir die jong Bloemfonteiner Courtney Butler (21) wat onlangs met kanker gediagnoseer is.
Mirna Butler, Courtney se ma, sê hulle is so dankbaar oor al die ondersteuning wat hulle uit die gemeenskap ontvang.

Dit volg op ‘n geselligheid Paint & Sip wat op 24 April ten bate van Courtney aangebied is.
Mariska Kruger van Piekfjin wat die geselligheid gereël het, sê almal het lekker saam gekuier en saam geskilder aan ‘n geskenk vir Courtney.
Die Butler-gesin vertrek op 13 Mei na Stellenbosch waar Courtney volgens beplanning op 15 Mei ‘n groot operasie sal ondergaan.
Mirna sê Courtney het die afgelope tyd hoofpyn gehad en het gekla dat haar neus seer is. Sy het ‘n afspraak gehad by ‘n oor-, neus- en keelspesialis maar voordat sy daar uitgekom het, het sy op 30 Maart ‘n epileptiese aanval gekry. Almal het groot geskrik. “Die aanval was ‘n bedekte seën, want sy moes toe dringend ‘n skandering ondergaan waar die gewas ontdek is,” vertel Mirna. Die andenoïde sistiese karsinoom (soliede tipe) wat by Courtney gediagnoseer is, is ‘n gevaarlike, skaars tipe kanker.
“Ons is so dankbaar vir almal wat aan ons dink en ons op verskillende maniere ondersteun.”
Op die Paint en Sip-geleentheid by Villa Avianto is R26 480 ingesamel. Mariska sê benewens die kaartjies wat die 112 gaste betaal het, het verskeie ondernemings ook ruim tot dié bedrag bygedra, dit sluit Greenside-kwekery in.
Tydens die Franse aandmark op 18 April het Suretha van Heerden ook ‘n deel van die toegangsgeld vir Courtney geskenk.
Mariet Schröder van Blue Digital het die BackaBuddy-projek begin. Op die blad skryf Mariet: “Kanker het nie net ‘n invloed op die pasiënt nie, dit raak almal wat lief is vir hulle. Mirna en haar man, Dwight, is gefokus daarop om vir Courtney daar te wees en elke rand wat vir hierdie doel ingesamel word, maak hul las ‘n bietjie ligter sodat hulle kan fokus op dit wat werklik belangrik is.
Besoek die BackaBuddy-blad.






You must be logged in to post a comment.