Die woord “Vespa” tower romantiese beelde op van ‘n rit langs die betowerende kuslyn van Italië.
Dié oulike bromponie het op 23 April 80 jaar oud geword. Op hierdie dag in 1946 is ‘n patent in Florence in Italië geregistreer met Corradino DÁscanio en Enrico Piaggio aan die voortou van die ontwikkeling van dié bromponies wat in die na-oorlogse tyd ‘n praktiese oplossing vir vervoer gebied het.

In Bloemfontein is daar ‘n hele paar van dié gesogte bromponies.
Een versamelaar is oom Steve Oosthuizen (76) wat al jare lank Vespas opbou.
Oom Steve vertel hy het jare gelede ‘n 1927 Ford gerestoureer en hy en sy vrou, Lida, het daarmee aan tydrenne deelgeneem. Hy het later die Ford verkoop.
Sy eerste Vespa het hy gekoop om mee werk toe te ry.
Nadat hy en Lida ‘n tyd lank in Johannesburg gewoon het, het hulle in 2002 teruggetrek na Bloemfontein. Weer het hy ‘n Vespa gekoop en dit saam met ‘n vriend, Piet du Toit, opgebou.
So deur die jare het hy verskillende Vespas opgebou en gerestoureer. Sy trots is die grys 1957-model wat aan ‘n oom wat op die spoorweë gewerk het, behoort het.

In ‘n stadium het die Vespa in ‘n pakkamer beland waar dit vir 30 jaar was voordat oom Steve dit in die hande gekry het en tot nuut opgebou het.
Hy vertel sy Vespas kom van oor die land heen. Sy een grys Vespa het hy in Boksburg gaan koop en ‘n helder gele kom van Queenstown.
“Dié een was met die hand pers geverf toe ek haar daar gaan haal het.”
Oom Steve ry gereeld met die Vespas. “Ek en my maat Bok Cronje ry soms hier van Langenhovenpark af tot by Glen en terug op die N1. Ons het ook al Dealesville toe gery.”
Hy vertel die kinders in die straat waar hulle woon, verwonder hulle aan dié bromponies wat vernoem is na ‘n perdeby (vespa in Italiaans).
Hy vertel een seun het eendag nie mooi verstaan toe hy die oom so met die Vespas in die straat sien verbyry nie.

“Oom het dan nou net met ‘n blou Vespa gery, nou ry Oom dan skielik met ‘n rooi een,” het dié jongman vir hom verbaas gesê.
“Ja,” het ek hom ewe ernstig vertel. “Ek het gou huis toe gery en hom gaan verf.”
Sy Vespas is onder die 15 wat Vrydag 1 Mei op Cars-in-the-Park te sien wees as deel van die 80ste verjaardag van dié bromponies.
Die OVS-veteraanmotorklub reël weer vanjaar dié groot uitstalling op die skoolgronde van die Martie du Plessis-skool. Saam met die uitstalling van motors, bied die Bloemfontein-modelmotorklub die jaarlikse Toyfair in die sale aan. Besoekers sal kan kom loer na modelmotor-
tjies, modeltreine, poppe en vele meer.
Toegang tot die geleentheid Vrydag van 09:00 tot 14:30, kos R50 en R20 vir kinders 12 jaar en jonger.







You must be logged in to post a comment.