Soveel hoofde, soveel sinne. Deesdae is daar hordes nuwe hoofde, en derduisende nuwe sinne waarvan ons probeer sin maak.
Danksy die volstoom toetrede van Kunsmatige Intelligensie (KI) tot kenniswerk probeer almal dink wat die impak van spelers soos Grok, Chat GPT, Suno, en ‘n bontspul ander botte, slawe en heersers op ons lewens gaan wees.
Nuwe medespelers in die spel van die lewe.
Verbeel jou jy het ‘n oulike bot-troeteldier wat soos jou gunsteling-teelhond of basterkat lyk, wat nie op die grasperk mors nie, met sensor-oë jou werf dophou vir skarminkels, met jou gesels wanneer en waaroor jy wil.
Anders as Wagter vereis Bot-gedierte nie hondekos en bosluispille nie en doen ook diens as jou sielkundige met wie jy jou diepste drome en kwellinge kan deel. Minder verantwoordelikheid nodig as met ‘n tamagotchi.
En so word ons meer geïsoleer van ander lewende wesens.
‘n Paar jaar gelede sou ons op ‘n Vrydagaand video-winkel toe ry. Daar ‘n paar ander fliek-entoesiaste raakloop, bietjie inkopies doen terwyl ons vir die pizza wag wat ons saam met die vi-deo gaan geniet. Musiek-, klere-, en boekwinkels was ideale uithangplekke.
En nou? Die videos stroom breëband na die televisie in ons sitkamer, winkelitems arriveer uit China by die tuinhek met koeriers, die pizza word afgelewer deur ‘n Uber-entrepreneur. Die huiskokonne vanwaar ons aanlyn werk krimp nouer. Geleenthede vir informele sosialisering het weg-gedein. Onlangs is ‘n nefie laat vir aandete. Toe sy ma hom ernstig begin roep, laat hy weet dat hy besig is met ‘n rekenaarspeletjie. Hy kan nie nou kom eet nie, want hy speel met régte mense. Nugter weet watse mense die om die etenstafel in die kamer langsaan is.
En terwyl ons mekaar reeds minder sien, neem KI ook ons gesprekke oor. Dis net soveel makliker om die KI program te vra om te antwoord op ‘n e-pos, ‘n verslag saam te stel en te help beplan vir ‘n onderhoud. KI vereis nie dat jy jou sosiale ordentlikheidsjassie dra nie. Jy kan kom nes jy is, vra net wat jy wil, en voorgee om te wees net wie jy wil – die Bot sal jou aanvaar. Anders as regte mense wat jou dalk kan oordeel.
KI, effektiwiteit en kitsaflewering maak ons lewe makliker, eenvoudiger en vinniger; maar ook baie meer eensaam. Wat ons nou meer as ooit nodig het is nie KI nie, maar ‘n hoë Mede-menslikheid-IK.






