Die gewilde kykNET-mediese drama Binnelanders het vandeesweek ’n besondere mylpaal behaal met die uitsending van die reeks se 5 000ste episode op 12 Januarie. Sedert die eerste episode in 2005 uitgesaai is, het Binnelanders toonaangewend geword in die Afrikaanse uitsaai-landskap.
Die gewilde kykNET sepie, Binelanders het vandeesweek ‘n mylpaal gevier van 5 000 episodes.

Die gewilde kykNET-mediese drama Binnelanders het vandeesweek ’n besondere mylpaal behaal met die uitsending van die reeks se 5 000ste episode op 12 Januarie. Sedert die eerste episode in 2005 uitgesaai is, het Binnelanders toonaangewend geword in die Afrikaanse uitsaai-landskap.

Die reeks bewys vir al meer as twee dekades dat sterk vertelkuns, gekenmerk deur boeiende stories en geloofwaardige karakters, kykers vasgenael hou.

Volgens mede-vervaardiger Human Stark is die Binnelanders-span se fokus eenhonderd persent op die toekoms gerig. “Ons sal aanhou probeer stories vertel wat aanklank vind deur middel van geliefde en opwindende nuwe karakters. En met die aanwending van moderne tegnologie sal ons die kyk-ervaring nog verder probeer verhoog,” sê Stark.

’n Paar akteurs onthou…

Je-ani Swiegelaar (Naomi Koster): “As ek terugdink aan Binnelanders se twintig jaar en dan nou ook ons 5 000ste episode, onthou ek nog presies waar ek was toe dit begin het. Ek was ’n plaagbeheerder in Walvisbaai en ek het vir my tannie gesê, “Ek weet nie hoe nie en ek weet nie wanneer nie, maar ek gaan eendag in daai reeks speel!” ’n Paar duisend episodes later en ek is steeds deel van die Binnelanders-span wat relevante stories met hart aan ons baie getroue kykers vertel. Ek kan nie wag om te sien wat in die volgende 5 000 episodes gebeur nie.”

Die gewilde kykNET-mediese drama Binnelanders het vandeesweek ’n besondere mylpaal behaal met die uitsending van die reeks se 5 000ste episode op 12 Januarie. Sedert die eerste episode in 2005 uitgesaai is, het Binnelanders toonaangewend geword in die Afrikaanse uitsaai-landskap.
Na 5 000 episodes, sal die vervaardigers van Binnelanders steeds aanhou stories vertel wat aanklank vind deur middel van geliefde en opwindende nuwe karakters.

Roberto Kyle (Dr. Joe Olivier): “Dis vir my ’n groot voorreg om my dorpie, Paarl, as akteur op hierdie ikoniese show te kan verteenwoordig. Binnelanders het diep in die harte van so baie Paarliete kom kruip, grootliks as gevolg van mense soos Clint Brink en Bradley Olivier. Dis vir my die grootste eer om hulle skoene te (probeer) volstaan, en om met hierdie epic reeks Afrikaans te kan vier!”

Antoinette Modise (Suster Bonnie Jacobs): Baie geluk Binnelanders met 5 000 episodes! Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om deel van die span te wees. Dit is lang ure van lag, huil en pret wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie. Binnelanders is huis.”

Lorraine Burger (Annetjie Strauss): “Ek is al so lank deel van Binnelanders dat ek die tydlyn van my eie lewe onthou na gelang van wat op daai stadium in Binnelanders gebeur het. Ek weet byvoorbeeld ek het my huis gekoop in die tyd wat Tertius lewend uit die Congo teruggekeer het en Daleen moes kies tussen hom en Quinten!”

Marleé van der Merwe (Dr. Ella Swart): “Binnelanders is ’n plek waar ’n mens nie sommer net vir ’n kort rukkie wil bly nie. Die mense kruip in jou hart in en van my kollegas is soos familie. Om deel te wees van ’n chaotiese Ongevalle-toneel oortref elke keer my verwagtinge en, al is dit altyd uitdagend, onthou ek elke keer na só ’n toneel hoekom ek trots is om op hierdie eersteklas produksie te werk. Dis dáár waar jy die hele span, voor en agter die lens, in hulle element sien!”

Melinda Viljoen (Tracy Jonker): “In 2018 het ek met soveel drome, wat so ver of ‘te groot’ gevoel het, by Stark Studios se deure ingestap. Vandag kan ek met dankbaarheid getuig van ’n platform waar ek kon groei, nie net as aktrise nie, maar as mens, vrou, mamma en draer van hoop. Ek kyk terug na ’n tydperk in my lewe waar Binnelanders my die geleentheid gebied het om my drome te bewaarheid. Binnelanders sal altyd ’n hoogtepunt in my lewe wees.”

  • Binnelanders is weeksdae om 19:30 te sien op kykNET (Kanaal 144), asook aanlyn via DStv Stream.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article