Die jagtog is beplan, en Bethlehem Voortrekker jag groter wild as ooit.
Justin Taylor, hoof van rugby, draai nie doekies om nie.
“Dit klink dalk soos ‘n cliché, maar dit is die waarheid: Daar is nie ‘n maklike wedstryd in dié liga nie,” sê hy onomwonde oor die Griffons-liga, waar vier van die ses skole vanjaar in die Noord-Suid-toernooi gaan meeding.
Welkom Gimnasium, Trio, Goudveld, Hentie Cilliers en Witteberg. Elke naam ‘n stryd. Elke wedstryd ‘n oorlog.
Die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks, waarin Voortrekker ook speel, is waar nog groot wild wag. Fichardtpark, Sentraal en Diamantveld gaan ook alles in die stryd werp om die reeks te wen.
Taylor se ambisie is eenvoudig, maar reusagtig: Wen die Wesgrow en die Griffons-liga met al hulle spanne. Maar vir die manne van Bethlehem gaan dit oor meer as net punte op ‘n telbord.
“Ons wil graag seuns in mans ontwikkel wat hulle plek in die wêreld kan volstaan. Rugby help ons om ‘n goeie basis te vorm vir die lewe vorentoe. En as jy ernstig is om jou rugbyloopbaan verder te vat, wil ons jou help. Die skool se afrigters werk almal baie nou saam, hoeveel hulle vir die kinders omgee is ongelooflik,” verduidelik Taylor.
Dit is dié filosofie, karakter en trofeë wat Voortrekker se benadering definieer.
Daar is nie baie tyd vir verfyning nie. Op 14 Maart trek hulle stewels aan teen Fichardtpark se leeus in hulle Wesgrow-openingswedstryd. Daarna wag ‘n lang reis Kimberley toe waar Diamantveld, die Wesgrow se verdedigende kampioen, tande wys.
“Diamantveld is ‘n lekker kompeterende derby. Hulle het die Wesgrow die laaste twee jaar gewen, voor dit het ons hom gewen,” vertel Taylor.
Die Diamantveld-stryd is nog vars in die geheue wanneer Voortrekker noordwaarts trek Pretoria toe vir die Noord-Suid-toernooi. Hier wag Nelspruit en die formidabele Zwartkop, ‘n span wie se perfekte seisoen verlede jaar in ‘n hartseer-halfeindstryd tot ‘n einde gekom het.
“Dit gaan lekker taai wees. Veral Zwartkop, hulle het ‘n baie goeie span die jaar, hulle dream team, so ons sien uit om onsself teen hulle te toets,” sê Taylor.
Dis die soort wedstryd wat reputasies bou of breek.
Maar as jy met enigiemand in Bethlehem praat, weet jy presies vir watter wedstryd die dorp op hete kole sit en wag: Voortrekker teen Witteberg.
Die Jordaanrivier, daardie geografiese skeidslyn wat deur Bethlehem kronkel, verdeel meer as net grond. Bly jy aan die een kant, is jy Witteberg. Bly jy aan die ander kant, is jy Voortrekker. Dis so eenvoudig, en so kompleks.
“Dit is ‘n baie groot dag vir die dorp, die hele gemeenskap en oudskoliere koop in en kom ondersteun,” vertel Taylor, en sy woorde dra die gewig van tradisie.
Voortrekker is die ouer van die twee skole, met drie en soms vier geslagte wat die skool bygewoon het. In sommige gevalle bly al die geslagte steeds in die omgewing. Dit is die soort drama wat Hollywood nie kan skryf nie.
“Daar is gewoonlik so 10 000 mense by die wedstryd. Dit is baie taai; ons het verlede jaar met ‘n enkele punt verloor,” sê Taylor, en daardie enkele punt sal ‘n teer saak wees, totdat die eindfluitjie van 2026 se kragmeting geblaas het.
Hulle wil die Wesgrow terugvat. Zwartkop se “dream team” wag. En dan, op die dag wanneer die hele Bethlehem stilstaan, kom Witteberg oor die Jordaan.
Geen wegkruipplek. Geen verskoning.





