BLOEMFONTEIN – Die bestuurder van die Toyota Hilux-bakkie in die ongeluk waarin drie kinders verlede jaar op die N8 oorlede is, Tristan Kearney (20), is Dinsdag 24 Maart in die Bloemfonteinse streekhof gevonnis.
Kearney het skuldig gepleit op drie aanklagte van strafbare manslag en is daarna tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar. Hy sal drie jaar korrektiewe toesig uitdien.
Hy sal ook 576 uur gemeenksapsdiens verrig terwyl hy in korrektiewe toesig onder huisarres is.
Die bevinding spruit uit die motorongeluk op 24 Januarie toe Ayden (8) en sy boetie Ryan Smit (6) en hul niggie Leané van Papendorp (8) oorlede is.
Kearney se bakkie het by die verkeerslig by die afrit na Krugerlaan teen die Chevrolet Spark gebots waarin Leané se ma, Adri Jonck, die kinders na die Laerskool Dr. C.F. Visser geneem het.
Nog ‘n kind, Tennique Joubert (8), en Jonck is in die ongeluk beseer.
Lisa-May Pieters van Netwerk24 berig streeklanddros Rasheed Matthews het in sy uitspraak gesê Kearney mag gedurende die drie jaar van sy huisarres steeds werk, kerk toe gaan, aan georganiseerde sport deelneem, studeer en begrafnisse bywoon.
Pieters berig verder Matthews het in sy uitspraak gesê Kearney het in die lig van sy jeugdige ouderdom ‘n groot kans op rehabilitasie en toon diepe berou. Hy het gesê daar is geen vonnis wat die pyn van die oorlede kinders se familie gaan wegneem nie.
Kearney behou sy rybewys en mag ook ‘n vuurwapen besit.
Pieterse berig die hof het gehoor dat Kearney tydens die ongeluk vir Custom Steel and Coatings ge-
werk het. Hy het met sy persoonlike Hilux-bakkie gery om twee werkers en toerusting na Tweespruit te neem.
Hy het ook ‘n gehuurde sleepwa gesleep. Die hof het gehoor dat die verkeersligte by die N8-kruising by Aljo’s Superspar foutief was en bygedra het tot die ongeluk. Die verkeerslig was oranje toe Kearney die kruising binnegegaan het en het na rooi oorgeslaan toe hy reeds in die kruising was. Die hof het gehoor dat Jonck gedraai het voordat die groen pyltjie begin flits het. Dit is toe dat die twee voertuie gebots het.
Die hof het verder gehoor dat geen passasiers in die Chevrolet Spark vasgegespe was nie.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die skuldigbevinding en vonnis beklemtoon die ernstige gevolge van roekelose en nalatige bestuur.
“Die NPA bly daartoe verbind om aanspreeklikheid te verseker in gevalle waar lewens verlore gaan as gevolg van onverantwoordelike gedrag op die paaie,” sê hy in ‘n nuusverklaring.
Hy sê lede van die publiek word aangemoedig om versigtig te wees, verkeerswette te gehoorsaam, en die veiligheid van alle padgebruikers, veral kwesbare voetgangers, te
prioritiseer.





