STELLENBOSCH – Bernard Fick, ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van maatskappye, sal die Universiteit Stellenbosch-raad lei.
Die US-alumnus is op Maandag 13 April op ‘n raadsvergadering as voorsitter van die US-raad verkies en was die enigste benoeming vir die voorsitterskap. Hy is die 15de voorsitter van die raad.
Fick, wat in 2024 as een van drie lede van die raad deur die US-kieskollege van skenkers verkies is, dien ook as lid van die uitvoerende komitee van die raad, voorsitter van die oudit- en risikokomitee (ORK) en lid van die beleggingskomitee. Ingevolge US-regulasies sal hy nou uit die ORK tree.
Slaggereed vir pos
Fick het dit as ‘n groot eer beskryf om met hierdie verantwoordelikheid vertrou te word. “Die US het ‘n trotse geskiedenis en ‘n duidelike sin van doelgerigtheid. Ek sien daarna uit om saam met die raad en die universiteitsleierskap te werk om die voortgesette verwesenliking van sy visie en strategiese doelwitte te ondersteun,” het hy ná sy verkiesing gesê.
“Ons sal daarop fokus om sterk oorsigbestuur, aanspreeklikheid en volgehoue vordering in diens van die instelling en die breër samelewing wat dit dien, te verseker.”
LEES OOK: Stellenbosch University gears up to elect new council chair
Prof. Deresh Ramjugernath, US-rektor en vise-kanselier, het Fick met sy verkiesing geluk gewens en gesê sy aanstelling kom op ‘n belangrike tydstip vir die universiteit. “Bernard bring ‘n seldsame kombinasie van groot finansiële kundigheid, sterk bestuurservaring en ‘n duidelike begrip van die US se konteks en aspirasies,” het Ramjugernath gesê.
“Sy langtermynverbintenis met die instelling, tesame met sy professionele rekord, plaas hom in ‘n goeie posisie om die raad met integriteit en versiendheid te lei. Ek sien daarna uit om nou saam met hom te werk terwyl ons voortgaan om die universiteit se strategiese prioriteite en langtermynvolhoubaarheid te bevorder.”

LEES OOK: Stellenbosch University donors call for fresh leadership to take the reins
Die verkiesing van die voorsitter het volgens die proses wat in die US-statuut voorgeskryf word, verloop en moes uit spesifieke kategorieë van eksterne raadslede geskied.
Die termyn van die vorige voorsitter, dr. Nicky Newton-King, het op Woensdag 1 April geëindig. Sy het besluit om haar nie weer as skenkerkandidaat vir die US-raad beskikbaar te stel nie.
“Ingevolge die US-statuut beklee ‘n voorsitter die amp vir ‘n termyn van vier jaar en kan herverkies word, maar mag nie vir meer as drie opeenvolgende termyne dien nie,” het Martin Viljoen, ‘n US-woordvoerder verduidelik. “Die termyn of termyne wat hy of sy as voorsitter kan dien is uiteraard afhanklik van die tyd wat hy of sy in die raad dien.”
Fick se vierjaartermyn as lid van die US-raad, in sy hoedanigheid as ‘n skenkerskandidaat, eindig op 14 Oktober 2028. “Sy termyn as voorsitter van die raad is dus gekoppel aan hierdie ampstermyn. Hy sou uiteraard weer deur donateurs tot die raad verkies kon word,” het Viljoen bygevoeg.
Meer oor nuwe voorsitter
Fick is ‘n US-alumnus en ‘n aktuaris van beroep – geoktrooieerde aktuaris en ‘n genoot van die Fakulteit van Aktuarisse – en werk reeds meer as 30 jaar in die finansiële sektor. Hy was onder meer 14 jaar aan Prudential Investment Managers (nou M&G Investments Southern Africa) verbonde, waar hy vir 12 jaar die uitvoerende hoof was.
Hy dien steeds as ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van die M&G (Suid-Afrika) Global Funds ICAV en is ook ‘n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Alexforbes Investments Ltd, Alexforbes Investments Unit Trusts Ltd en Alexforbes Invest Nominees (Rf) Ltd.
Hy is in 2023 as ‘n onafhanklike lid van die beleggingskomitee van die US-raad en in 2024 as lid van die oudit- en risikokomitee gekoöpteer.
As hy nie homself agter ‘n lessenaar of in ‘n raadsaal bevind nie, spandeer Fick graag tyd op ‘n gholfbaan of op sy fiets. Hy en sy vrou, Liezel, het twee volwasse kinders wat albei aan die US studeer.





You must be logged in to post a comment.