Lynnika du Toit gereed vir die verhoog by die Dance Star World Masters 2026 in Kroasië, waar sy Suid-Afrika verteenwoordig en vier medaljes gewen het.
Lynnika du Toit gereed vir die verhoog by die Dance Star World Masters 2026 in Kroasië, waar sy Suid-Afrika verteenwoordig en vier medaljes gewen het.
TygerBurger

Bellville-meisie skitter op wêreldverhoog

Lynnika du Toit gereed vir die verhoog by die Dance Star World Masters 2026 in Kroasië, waar sy Suid-Afrika verteenwoordig en vier medaljes gewen het.
Lynnika du Toit gereed vir die verhoog by die Dance Star World Masters 2026 in Kroasië, waar sy Suid-Afrika verteenwoordig en vier medaljes gewen het.

Lynnika du Toit, ‘n 15-jarige gr. 10-leerling van die DF Akademie en lid van die Lmri Academy of Dance het onlangs Suid-Afrika by die Dance Star World Masters 2026 in Kroasië verteenwoordig – en beslis nie met leë hande huis toe gekom nie.

Lynnika het in vier kategorieë teen die bestes in die wêreld meegeding en vier medaljes gewen: eerste plek in Liriese Duet (Lyrical Duet), tweede plek in Liriese Groep (Lyrical Group), en derde plek in sowel Oopsolo (Open Solo) en Liriese Solo (Lyrical Solo).

Dit was nie haar eerste keer op die internasionale verhoog nie. “Ek was baie opgewonde omdat ek in 2024 ook deelgeneem en gehoop het dat ek in 2026 myself sal kan verbeter,” sê Lynnika.

Agter hierdie prestasies lê maande van strawwe oefening. “Ons oefen elke dag van die week vir 2 tot 3 uur per dag, asook op Saterdae vir 3 tot 4 uur met al die danse. Baie blou kolle en seer spiere,” vertel sy.

LEES OOK: Young South African pole art star Isla Chiworeso claims bronze at world championships

Die groep- en duet-kategorieë was veral uitdagend. “Vir die groep en duet was dit meer stresvol as vir die solo’s omdat jy presies dieselfde tye en bewegings as die ander mense in jou span moet hê, maar met die solo’s is dit net jy op jou eie. Daarom is dit nie so duidelik as jy ‘n fout maak nie.”

Alhoewel al vier medaljes vir Lynnika besonders was, was haar derde plek in die Liriese Solo-jeugafdeling veral onverwags. “Die afdeling was baie sterk en daar was baie goeie dansers. Daar was 29 dansers in die kategorie en ek het derde plek behaal,” sê sy. “Ek moet ook bysit dat eintlik al die ander ook verbasend was, want dit is ‘n internasionale kompetisie.”

Haar goue medalje in die Liriese Duet, saam met haar duetmaat, Shyrah Strauch, het ‘n besonderse plek in haar hart. “Om eerste plek te kry het my laat voel dat al die harde werk die moeite werd was, en ek was vreeslik trots op myself en my duet partner, Shyrah Strauch.”

Gesin en gemeenskap agter haar

Die reis na Kroasië is moontlik gemaak deur die ondersteuning van haar gesin wat in Vredenberg, Bellville woon en ‘n gemeenskap wat saamgewerk het. “My ma het saam met my gereis na Kroasië, met behulp van my ouers en ander mense wat gehelp het met geldinsameling,” sê Lynnika. “My gesin is vreeslik trots op my prestasies en was baie bly vir my. Ek het baie boodskappe ontvang tydens die kompetisie.”

Die DF Akademie het ook ‘n rol gespeel deur haar te ondersteun om skoolwerk in te haal wat sy tydens die kompetisie gemis het.

LEES OOK: Plaaslike dans-ster Neéke Smuts beïndruk by DanceStar-kompetisie

Ten spyte van haar sukses, spreek Lynnika ‘n belangrike kwessie aan. “Ek sou net graag meer ondersteuning van Sport Suid-Afrika wou gehad het, omrede ons Suid-Afrika verteenwoordig en alles self moes betaal. Minderbevoorregte kinders wat graag wil dans en die talent het, sal miskien nooit so ‘n kans kry nie,” sê sy.

Die ervaring oorsee het ook haar oë oopgemaak vir wat dit verg om op die hoogste vlak mee te ding. “Die kompetisie oorsee is baie hoër as in Suid-Afrika. Ek glo ek gaan op ‘n hoër standaard moet werk en harder oefen as ek weer in so ‘n internasionale kompetisie deelneem.”

Groot drome vir die toekoms

Op slegs 15 jaar oud het Lynnika reeds groote planne. “Ek wil graag eendag vir die Ohio State College Dance Team dans terwyl ek studeer vir ‘n veeartsenygraad. Ek sal ook graag by die Dallas Cowboys Cheerleaders wil inskryf,” sê sy.

Vir ander jong dansers wat droom om eendag ook op internasionale verhoë te skitter, het sy hierdie boodskap: “Dit is vreeslik baie harde werk, maar hulle moet nooit opgee nie en uithou as julle droom om eendag ‘n danser te wees. Dis regtig baie harde werk, maar ek geniet elke oomblik daarvan.”

Lynnika du Toit van die DF Akademie in Bellville vertoon haar vier Dance Star World Masters-toekennings ná 'n uitsonderlike vertoning by die internasionale kompetisie in 2026.
Lynnika du Toit van die DF Akademie in Bellville vertoon haar vier Dance Star World Masters-toekennings ná ‘n uitsonderlike vertoning by die internasionale kompetisie in 2026.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article