Ná ‘n lang jaar is baie mense al by hul vakansiebestemmings oor Suid-Afrika heen. Hier is goeie nuus vir almal wat graag die lang pad na interessante bestemmings wil neem.
Daar is heelwat toerisme-juwele in die Vrystaat wat minder bekend is.
Die kleiner juwele bied bekostigbaarheid, natuurskoon, stilte en vriendelike plaaslike storievertellers aan die reisiger.

Een van die juwele in die Vrystaat wat naby aan die hoofstad geleë is, is Philippolis. Die dorp is in die Suid-Vrystaat, so 170km suid van Bloemfontein.
Philippolis kan ook bereik word van Colesberg via die R717.
Die dorp is gestig in 1823 en is die oudste nedersetting in die provinsie. Die dorp se naam se oorsprong is te danke aan dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap wat ‘n sendingstasie daar begin het. Naas Bloemfontein en Bethlehem, het Philippolis die meeste historiese monumente in die provinsie.
En boonop is jou viervoet-vriend ook amper orals welkom. Wat die bestemming uniek maak, is dat die dorp nog talle huise in die styl van Karoo-argitektuur het. Dit bied geleentheid vir pragtige foto’s.
Iets wat populêr onder reisigers is, is kerk-toerisme en Philippolis het hierdie mark omhels met baanbrekerswerk om die pragtige geskiedkundige NG kerk in Voortrekkerstraat toeganklik aan reisigers te maak. Dit is tot 11 Januarie daagliks van 16:00 tot 19:00 oop vir besoekers.

Loer in, leer meer oor die kerk en sy geskiedenis en bewonder die argitektuur. Die NG kerk is ‘n nasionale gedenkwaardigheid wat sitplek vir 1 000 mense bied en is een van die moet-sien kerke in Suid-Afrika.
As jy opsoek is na stilte om te herlaai, is Philippolis net die plek. Hier kan jy jou motor parkeer en deur die dorp stap. Die beste tye om te stap is vroegoggend of laatmiddag om die eg Vrystaatse sonsopkoms of sonsondergang te aanskou.

Op ‘n wolklose aand, is die sterbelaaide hemel aanskoulik.
Buiten die unieke NG kerk is daar ook restaurante in die dorp met kos wat met liefde eg aan die Karoo keurig voorberei word. Restaurant-opsies sluit in die Karoo Artist Café (oop daagliks van 08:00 tot 14:00, en 17:00 tot 21:00), waar alles van ontbyt tot aandete bedien word – onthou om ‘n melkskommel hier te bestel. Emilys en Maidin Philippolis bied heerlike tee, koffie en koek sowel as ontbyt en middagetes.
Nog ‘n ervaring in Philippolis is die Waterkloof-brouery, 7km buite Philippolis op die R717 op pad na Colesberg. Hier kan gaste bier van gannabos en ook jenewer proe. Die unieke brouery bied aan die reisiger goeie geselskap, ‘n lekker pizza en heerlike Vrystaatse bier.

Die program tydens Desember in Philippolis sluit in ‘n Carols by Candlelight-geleentheid op Sondag 21 Desember by die stadsaal; ‘n Kersdiens om 09:00 op 25 Desember by Waterkloof en ‘n Kersete by die Philippolis Hotel en Maidin Philippolis by die Sir Laurens van der Post-gedenksentrum.
Op Woensdag 31 Desember is daar ‘n Oujaar-jol by die Karoo Artist Café, en ‘n potjiekoskompetisie om 13:00 by Pitstop.
Die Transgariep-museum is oop van 09:00 tot 15:00 op weeksdae (behalwe vakansiedae). Die Waterkloof-brouery is oop van Maandae tot Saterdae, behalwe Kersdag.
Die meeste blyplekke in Philippolis het nog akkommodasie beskikbaar oor Kersfees en op Nuwejaarsdag.

Nog ‘n bonus van Philippolis is dat dit geleë is in die enigste distrik in die land wat grens aan beide die Vanderkloof- en Gariepdamme. So, vergeet van die see en kom besoek ‘n eg Suid-Vrystaatse juweel.
LEES OOK: Gastehuise in Gariepdam is al moedeloos gespook om water te kry






You must be logged in to post a comment.