Noordkaap Bulletin

‘Barney’ soek staat se ‘grootste getuies’ om vrae aan hulle te stel ‘soos hy wil’

George Peters
George Peters onlangs in die hof. Foto: Charné Kemp

KIMBERLEY – George Peters, oftewel Barney, vermeende berugte leier van die Hollanders-bende in Kimberley en Kuruman, het Woensdag ‘n uitdaging aan die staatsaanklaer gerig “om sy grootste getuies” in die getuiebank te sit.

Dan sal hy wat Peters is hulle onder kruisondervraging neem, en die “koerante moet daarvan kennis neem en berig doen”.

Peters verdedig homself nadat hy reeds twee regsverteenwoordigers in die pad gesteek het. Daarmee is sy wens vervul om homself te verdedig sodat hy “vrae aan die getuies kan stel soos hy wil”.

Peters en sy 15 medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.

LEES OOK: Barney bekla sy lot in hof oor ‘opgemaakte stories van getuies’

Vroeër die week het Peters nie vrae aan die “klein getuies” soos hy dit gestel het, in kruisondervraging gestel nie. Die getuies was polisielede van die Roodepan-polisiekantoor wat getuig het oor die voorval op 21 Augustus 2020 waarin Barney en sy meelopers na bewering probeer het om van sy familielede uit die selle te bevry.

Die beskuldigdes wou glo die polisiestasie met geweld binnegaan en verhoed dat die polisie twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, in aanhouding hou, en wou hulle bevry. Hulle het glo polisiebeamptes by die stasie gedreig. Een dreigement was om konstabel Daniel Mogamisi en sy gesin dood te maak en sy huis af te brand. Mogamisi is glo ook met ‘n mes gesteek.

Slyp tande vir voormalige vrou

Peters slyp ook sy goue tande vir een van sy voormalige vroue, Felicia Peters, wat glo ‘n staatsgetuie sal wees.

Luidens die akte het sy glo saam met Peters en ander saamgesweer om Roger Allen Johnson en Demeon Lyndon Hannie te vermoor. Sy was na bewering deel van ‘n skema waar lewensversekeringspolisse op die lewe van Dameline Jacqueline Albertus uitgeneem is. Peters is glo as ‘n begunstigdes van die polisse gelys en was teenwoordig toe die oorledene onder die voorwendsel van ‘n gesinsuitstappie na ‘n lodge geneem en vermoor is.

Later het Peters se verhouding met Barney versleg. Op 24 Januarie 2023 het hy haar na bewering ontvoer, gedreig om haar dood te maak, aangerand en by ‘n begraafplaas in Wrenchville, Kuruman, verkrag.

Weens die afwesigheid van twee regsverteenwoordigers het regter Almé Stanton die verhoor tot 20 Julie uitgestel.

LEES OOK: Versekeringsmoord op niggie: Twee susters kry lewenslange tronkstraf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article