St Cyprian's Cathedral in blue
Die St. Cyprian-katedraal in blou verlig. FOTO: Helena Barnard

(To read the English version, click here).

KIMBERLEY – Om bewusmaking te skep dat die gevaar verbonde aan asbesblootstelling nie verby is nie, en om moontlike lyers oor lewensbedreigende siektetoestande ná blootstelling aan dié veselagtige silikaatmineraal in te lig, is die St. Cyprian-katedraal in Kimberley op Vrydagaand 4 Julie in blou verlig.

“Daar is nooit enige veilige vlak vir blootstelling aan asbes nie,” sê Tracey Wood van die Glynnis Gale-stigting. Sy en Paul Wood van Enviro Investigations het die simboliese verligting van die katedraal gelei. Op dié dag is Aksie Mesotelioomdag in verskeie ander lande oor die wêreld heen herdenk vir slagoffers van mesotelioom en asbesverwante siektes, en om bewustheid hieroor te skep. Mesotelioom is ‘n seldsame en aggressiewe kanker veroorsaak deur die inaseming van asbesvesels.

St Cyphrian's Cathedral
Die St. Cyprian-katedraal in Kimberley, in blou verlig op Vrydagaand 4 Julie om Aksie Mesotelioomdag te herdenk. Dié dag word ook in verskeie ander lande herdenk vir slagoffers van mesotelioom en asbesverwante siektes. Die kleur blou is gekies vanweë die blou skynsel wat in asbes voorkom. Foto: Helena Barnard

Suid-Afrika was een van die wêreld se voorste produsente van asbes, met uitgebreide mynboubedrywighede in gemeenskappe soos Prieska en Kuruman in die Noord-Kaap, asook Pomfret in die Noordwes-provinsie, en Penge in Limpopo.

Die asbesmynbedryf het beduidende winste vir maatskappye en buitelandse markte gebring. Hoewel die laaste asbesmyne in Suid-Afrika in 2001 produksie gestaak het, en die gebruik van alle soorte asbes teen 2008 verbied is, het dit ‘n dodelike spoor agtergelaat. Mesotelioom en ander asbesverwante siektetoestande het die lewe van duisende mense oor Suid-Afrika heen geëis. Mense ly steeds weens asbesblootstelling – lank nadat die mynproduksie gestaak het.

Een studie het bevind dat die Noord-Kaap die hoogste aantal mesotelioom-sterftes gehad het en kenners glo dat gevalle in Suid-Afrika ‘n geweldige onderaanmelding het.

In van die gevalle is ‘n latente tydperk van 20 tot 40 jaar aangemeld, en is die gemiddelde ouderdom by diagnose 63 jaar. Diegene wat op ‘n jong ouderdom aan asbes blootgestel is, is die meeste geneig om mesotelioom te ontwikkel.

Mesotelioom meestal kwaadaardig; tas in die meeste gevalle die longe aan

Mesotelioom lei tot ‘n kankeragtige tumor in die mesotelium, ‘n membraan wat die longe, hart en die buikholte beskerm. Drie soorte mesotelioom kom voor, naamlik: pleurale mesotelioom, wat in die voering van die longe ontwikkel; peritoneale mesotelioom, wat die binnekant van die buikholte aantas; en perikardiale mesotelioom, wat aan die binnekant van die hart ontwikkel.

Volgens survivingmesothelioma.com is mesotelioom in die meeste gevalle kwaadaardig, met pleurale mesotelioom wat in die meeste gevalle voorkom.

Tracey Wood vertel dat verkeerde diagnoses gereeld weens die voorkoms van siektes soos tuberkulose (TB), MIV en Vigs gemaak word. Boonop is dit nie net voormalige asbesmynwerkers wat deur asbesblootstelling geraak word nie. Hul gesinne wat in die mynomgewing gewoon het, is ook geraak.

In die 1970’s was Suid-Afrika die derde grootste asbesprodusent ter wêreld, naas Kanada en Rusland, aldus asbestos.com.

Die asbesmynbedryf in Suid-Afrika het in 1977 sy hoogtepunt bereik toe dit 20 000 mynwerkers in diens gehad het en ‘n produksie van 380 000 ton behaal het. Uitvoer het kort daarna begin daal weens bewyse dat die gebruik van asbes ernstige gesondheidskomplikasies inhou. Dit het lande oor die wêreld heen aangespoor om beperkende wetgewing rakende asbesgebruik in te stel.

Ongeag daarvan dat die gebruik van alle soorte asbes in Suid-Afrika verbied is, het dié eens winsgewende bedryf die omgewing waarin dit gemyn is, besoedeld gelaat. Soms is van die ongeveer 600 asbesmyne in Suid-Afrika ná sluiting nie behoorlik gerehabiliteer nie, met gevolglike gesondheidsgevare. Van dié myne is op kleinskaal en blykbaar privaat bedryf. Die risiko van asbesblootstelling bedreig daarom steeds die welstand van gemeenskappe in Suid-Afrika.

“Ons verlig die St. Cyprian-katedraal om te sê: Hierdie lewens het saakgemaak, en ons het nog werk om te doen.”

Tracey Wood

Stigting bevorder bewusmaking, opvoeding oor mesotelioom

Die Glynnis Gale-stigting, ‘n nie-winsgewende organisasie, is genoem na Glynnis de Klerk wat haar lewe weens mesotelioom verloor het nadat sy aan asbes in haar grimering blootgestel is. Dié stigting beywer hom vir geregtigheid, verhoog bewustheid oor die voortdurende gevare van asbesblootstelling, en ondersteun diegene wat deur asbesverwante siektes geraak word.

Foto: Facebook/Glynnis Gale Foundation

Om die gehalte van inligting hieroor te verbeter, en ook die vlak van kundigheid in mesotelioomdiagnose, -behandeling en -sorg binne die gesondheidsorggemeenskap te verbeter, is nog ‘n mikpunt van die stigting.

Die stigting poog om deur bewusmaking en opvoeding meer mense oor die gevare van asbesblootstelling in te lig, en om te help dat meer gevalle van mesotelioom vroeër opgespoor word.

Regseise, regspanne, mediese kundiges ondersteun onderneming

Enviro Investigations speel ‘n noodsaaklike rol vir asbes-slagoffers deur regseise vir vergoeding te ondersteun. In sy fokus op gemeenskappe in die Noord-Kaap ontdek en dokumenteer die onderneming voortdurend teenwoordigheid van asbes-besoedeling – van mynafval en stortingsterreine tot verswakkende infrastruktuur wat steeds in huise, skole en openbare ruimtes gevind word.

Ter illustrasie. Foto: Unsplash/Ben Hessler

Die onderneming help ook individue en gesinne om regseise met betrekking tot asbesblootstelling in te stel, en werk nou saam met die eisers, regspanne en mediese kundiges. In 2023 het Enviro Investigations die grootste skikking tot nog toe vir ‘n eiser bekom.

Dié werk ontbloot die voortdurende risiko’s wat Suid-Afrika se asbes-nalatenskap inhou, maar doen ook meer as dit – slagoffers word bemagtig om aanspreeklikheid en vergoeding te soek vir die skade wat hulle gely het.

“Vir te lank is die gemeenskappe wat deur Suid-Afrika se asbes-nalatenskap geraak word, geïgnoreer. Ons werk om die waarheid te ontbloot, slagoffers in hul stryd vir geregtigheid te ondersteun, en te verseker dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

“Aksie Meso-dag is ‘n herinnering dat agter elke eis ‘n menslike verhaal is, en ons sal nie ophou totdat daardie stories gehoor en daarop gehoor gegee is nie.”

Paul Wood
  • Maak met die stigting of die onderneming kontak deur die kantoor in Kimberley by 053 285 0671 te skakel, of skryf aan info@ggfoundation.co.za of paul@enviroinvestigations.co.za.
  • Vir meer inligting, besoek ggfoundation.co.za en enviroinvestigations.co.za; of besoek Glynnis Gale Foundation op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.