RONDEBOSCH – ʼn Ginekoloog wat gepoog het om sy reg te herstel om pasiënte by ʼn Wes-Kaapse hospitaal toe te laat nadat die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) hom aan onprofessionele gedrag skuldig bevind en sy skorsingstydperk later opgehef is, het sy appèlaansoek vandeesweek in die Appèlhof verloor.
Dr. Ganes Anil Ramdhin ‘n spesialis-obstetrikus en -ginekoloog se regstryd teen Rondebosch Mediese Sentrum (RMS het begin nadat hy in Junie 2023 deur Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) skuldig bevind is aan onprofessionele gedrag.
Die spesialis wat sedert Oktober 2019 informele toelatingsvoorregte by RMS geniet het, is toe verbied om by dié fasiliteit te werk.
Die spesialis het skuld beken op klagte wat verband hou met twee pasiënte wat hy in 2020 behandel het. Hy het onder meer prosedures uitgevoer sonder voldoende voor-operatiewe ondersoek, ‘n vrugtelose operasie uitgevoer, en nagelaat om voldoende na-operatiewe sorg te verskaf. Gevolglik het die RGBSA hom van die register van praktisyns geskors.
Terwyl Ramdhin sy skorsing uitgedien het, het die bestuur en eienaarskap van RMS ingrypende veranderinge ondergaan. Die hospitaal het ‘n Geneeshere-adviesraad gestig en ‘n formele beleid ingestel vir die toekenning van toelatingsvoorregte. Dié nuwe beleid vereis dat praktisyns op “aktiewe status” op die RGBSA-register moet wees en hul bekwaamheid deur eweknie- of portuur-evaluering moet bewys.
Toe Ramdhin se skorsing in Junie 2024 opgehef is, wou hy sy praktyk by RMS hervat. Die RMS-raad het besluit om nie voorregte aan hom toe te staan nie. Hul weiering is beïnvloed deur verskeie faktore: ‘n gebrek aan mediese of finansiële behoefte aan ‘n bykomende spesialis, die wyd-gerapporteerde bewerings van wangedrag, en die potensiaal vir ernstige reputasieskade vir die hospitaal.
Verder het RMS aangevoer hul beroepsversekeringspremies sou waarskynlik styg deur ‘n dokter te huisves wat as ‘n “risiko” beskou word.
Ramdhin het aangevoer sy 2019-ooreenkoms met die hospitaal is nooit wettig beëindig nie. Volens hom was sy skorsing ‘n “tydelike situasie ” en sy regte moet outomaties hervat. Hy het ook probeer om die hospitaal se besluit as ‘n “administratiewe handeling” te hersien kragtens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).
Die uitspraak, geskryf deur appèlregter Petrus Koen, het dié betoog verwerp. Die hof het beslis toelatingsvoorregte is ‘n privaatregtelike aangeleentheid en die beëindiging daarvan maak nie ‘n administratiewe handeling uit nie. Voorts het die hof bevind dat kragtens die Wet op Gesondheidsberoepe, word ‘n praktisyn se registrasie as gekanselleer geag tydens ‘n skorsing.
Die hof het bevind toelatingsvoorregte kan slegs uitgeoefen word deur diegene wat geregtig is om te praktiseer. Ramdhin se skorsing het die kontrak fundamenteel verander. Hy sou nie terugkeer as die outonome spesialis met wie RMS oorspronklik gekontrakteer het nie, maar as ‘n praktisyn onder toesig met ‘n “verhoogde kontraktuele risiko”.
Die gevolgtrekking van die hof is die oorspronklike ooreenkoms is met sy skorsing deur regswerking beëindig.
Die appèlaansoek is met koste van die hand gewys.






