Saad oorhandig
Saad word oorhandig. Hier is van links Elsabe Rockman (Vrystaatse LUR vir Landbou), Kgosi Thabo Seatlholo (Nasionale Huis van Tradisionele en Khoisan-leiers), Kgosi Gaboilelwe Moroka (Barolong) en Barend Uys (Rrain). FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Die Barolong Boo Seleka wil binnekort die eerste volhoubare gemeenskap in Afrika wees.

Op ‘n geleentheid wat Donderdag 12 Maart aangebied is deur die koning van die Barolong Boo Seleka Kgosi Gaboilelwe Moroka gesê dié gemeenskap wil die eerste in Afrika wees om volhoubare voedselproduksie te doen.

AfriForum en Saai het deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative NPC (Rrain), die volgende fase van die gemeenskap se landbou-ontwikkelingstrategie vir die Barolong Boo Seleka van Thaba Nchu stukrag gegee deur die opleiding van die eerste 20 deelnemers aan die agterplaas-groentetuinprogram te befonds én groentesaad wat deur Rijk Zwaan geskenk is, te oorhandig. Die opleiding sal deur Thabo Olivier van Let’s Grow Food gedoen word.

Rrain het op die geleentheid 500 000 beetsaad en 1 000 murpampoen-hibriedsaad aan Moroka oorhandig.

Die Ke Nako-bekendstellings-geleentheid in die Barolong-saal in Thaba Nchu is deur verskeie rolspelers bygewoon, wat saamwerk aan die implementering van die volgende fase van die strategie. Agri All Africa, ’n langtermyn-netwerkvennoot van AfriForum en Saai, het ook tot die geleentheid bygedra en sal verantwoordelik wees vir die versekering van ’n behoorlike platform vir die gekommersialiseerde landbou-ontwikkeling wat sal plaasvind.

“Dit is ’n voorreg vir AfriForum om steeds deel te wees van hierdie reis en vennootskap wat ses jaar gelede gevestig is,” het Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum gesê. “Ons is dankbaar dat die toewyding, harde werk en volharding van die afgelope paar jaar bygedra het tot die vestiging van die grondslag wat hierdie volgende fase van die landbou-ontwikkeling in Thaba Nchu moontlik maak. Hierdie samewerkingsinisiatief beklemtoon dat vreedsame en voorspoedige naasbestaan van die verskillende kultuurgemeenskappe in die land bereik kan word deur die smee van vennootskappe gegrond op gedeelde waardes met ’n duidelike gedeelde visie.”

Lees ook: Vrystaatse gemeenskap se groenteprojek skep inkomste.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai, sê die meganisering, modernisering en kommersialisering van kleinboere is noodsaaklik vir welvaartskepping, die versekering van voedselsekerheid en die verbetering van die algemene maatskaplik-ekonomiese toestande van gemeenskappe in diep landelike gebiede. “Ons is dankbaar om betrokke te wees by hierdie inisiatief wat geleenthede skep vir kleinboere om te ontwikkel en tot hul volle potensiaal te groei.”

AfriForum en Saai is sedert 2020 betrokke by landbou-ontwikkelingsprojekte in vennootskap met die Barolong Boo Seleka.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article