BLOEMFONTEIN – Die lyk van ‘n afgetrede man is Maandag in die vroeë oggendure in sy huis in Fauna gevind wat deur ‘n brand vernietig is.
Pottie Potgieter (65), ‘n afgetrede spoorwegwerker wat alleen saam met sy hondjie in die huis gewoon het, is Maandag deur die Mangaung-brandweer in sy huis gevind nadat hulle die brand geblus het.
Braam van Zyl, afdelingshoof vir Mangaung se brand-en-reddingsdiens, sê die brandweer is Maandag 11 Mei om 02:02 na die huis in Lechwestraat 52 ontbied.

Tien minute later was agt brandweerpersoneel, ‘n brandweerwa en watertenkwa op die toneel.
“Die brand was in daardie stadium reeds in ‘n gevorderde stadium en ‘n deel van die dak het ineengestort.”
Van Zyl sê omstanders het die brandweerpersoneel meegedeel dat daar ‘n man en sy hons in die huis woon. “Hulle het dadelik begin om die brand te blus en na oorlewendes in die huis begin soek. Die hond is aan die teenoorgestelde kant van die huis waar die dag ingeval het, lewend gevind en na veiligheid gebring. Die bure het die hondjie na hulle toe geneem.”
Hy sê die brand moes reeds lank voor 02:00 ontstaan het en dit mag wees dat die ontploffing wat die bure gehoor het, die dak was wat ingeval het. Hy sê daar was ook ‘n gasbottel in die kamer.
Die forensiese ondersoek oor die oorsaak van die brand word nog gedoen.







You must be logged in to post a comment.