Nog ‘n uitstel van Aarto dalk die einde daarvan? FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Kort voor die inwerkingstelling van die nuwe wet op padverkeeroortredings Aarto, is dit nogmals uitgestel.

Adv. Anton Alberts, VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng sê dié party beskou die uitstel van die landwye inwerkingstelling as ‘n teken dat dit soos die e-tolstelsel in Gauteng in duie begin stort.

“Net soos die e-tolstelsel in Gauteng, lyk dit of Aarto wat net in Johannesburg en die Tswane-metro aktief is, stadig maar seker sy einde nader.”

There has been much confusion over the last week about the official date for the nationwide implementation of the AARTO Act.
Die inwerkingstelling van Aarto by talle munisipaliteite is weer uitgestel. FOTO: Argief

Alberts sê dit blyk dat Gauteng die plek geword het waar gesofistikeerde stelsels sterf – òf weens ‘n gebrek aan legitimiteit, òf weens ‘n gebrek aan die nodige bestuursvernuf wat die stelsels vereis.

“Die e-tolstelsel het eers stadig begin verkrummel weens jare se hofsake en openbare verwerping, maar het vinnig sy einde betree net voor die 2024-verkiesing toe dit vir die nasionale- en Gauteng-regering duidelik geword het dat die stelsel nie meer werkbaar is nie.”

Hy sê die kreeftegang van Aarto stadig begin met jare se hofsake, problematiese wetgewing en regulasies, en uiters gebrekkige implementering daarvan tot nadeel van die publiek.

“Daarby het daar stelselmatig ook ‘n legitimiteitskrisis teenoor Aarto in Gauteng begin ontwikkel weens die algehele onvermoë van die stelsel om die paaie in Johannesburg en Pretoria veiliger te maak.

“Dit blyk daarom nou weens die talryke probleme om Aarto in te skakel by die stelsels van munisipaliteite landwyd, dat daar gereed gemaak kan word vir die finale ineenstorting daarvan,” sê Alberts.

Indien Aarto nie suksesvol in Gauteng in werking gestel kon word nie, sal dit mettertyd vir die nasionale regering ook moet duidelik word dat die stelsel nie landwyd werkbaar is nie.

Aarto se toetsfase in Gauteng was van meet af vol kortsluitings wat met tyd net erger geword het.

Alberts sê streng polisiëring van Johannesburg en Pretoria se verkeer soos wat voorheen plaasgevind het in terme van die Strafproseswet, het eenvoudig soos mis voor die son verdwyn weens die afwesigheid of laat uitreiking van boetes en verskeie ander vorme van wanadministrasie wat boetes ongeldig gemaak het.

Adv. Anton Alberts

Daar was selfs tye waar Aarto-boetes elektronies in die stelsel gegenereer was, maar nooit uitgedruk en afgestuur was binne die wettige sperdatums nie. Die owerhede wou egter steeds daardie boetes afdwing en moes deur ‘n hof beveel word om dié onwettige optrede te staak.

Tans wemel Aarto se toepassing in Johannesburg en Pretoria steeds van verskeie vorme van wanadministrasie. Die Aarto-wetgewing en -regulasies word steeds nie toegepas nie of indien wel, word dit nie konsekwent toegepas nie.

Talle motoriste ontvang steeds nie enige boetes per pos of e-pos nie, maar word steeds wederregtelik gedwing om die boetes te betaal wanneer hulle hul voertuiglisensies wil hernu.

Die stelsel blyk ook buigsaam vir manipulasie te wees. Daar is getuienis dat sekere maatskappye se boetes spoedig afgedwing word wat ‘n blok op die lisensies van hul vloot voertuie plaas, terwyl andere nie afdwingingsbevele kry nie en hulle voertuie dus gevrywaar word van lisensieblokkasies.

Alberts sê die Aarto-wet se oogmerk is juis om paaie veiliger te maak, maar dit is duidelik dat die Aarto-stelsel daardie toets tragies gedruip het.

“Gegewe hierdie magdom probleme en onwerkbaarheid van Aarto, is dit daarom nou tyd om die staatsmasjien wat Aarto aan die lewe hou, finaal te ontkoppel en die vorige strafprosesreg-stelsel te moderniseer en te laat herlewe,” is sy voorstel.

“Intussen beveel ons motoriste aan wat vrae het oor die geldige administrasie van hul Aarto-boetes, om aansoek te doen dat dit teruggetrek word.”

Die inwerkingstelling van Aarto is nou uitgestel tot Julie 206. Lees meer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article