BLOEMFONTEIN – Meer as die helfte van die behandelde water in die Mangaung-metro genereer geen inkomste vir die metro nie.
Waterverliese alleen oorskry 48% van die gesuiwerde water, wat na raming R340 miljoen per jaar kos.
Op talle plekke oor die metro heen stroom water al vir maande lank. In Albrechtstraat in Dan Pienaar, stroom water uit pype van ‘n reservoir wat bo in die koppie geleë is, al vir byna twee jaar weg. Die metro het in Julie 2024 ‘n pyp opgegrawe om herstelwerk daar te doen. Dit blyk hulle het toe ‘n baksteen-en-sementbeskutting omgestoot om aan die lekkende pyp te werk. Die pyp hier het al ‘n hele dam gevorm. Hoër op spuit water uit ‘n stukkende pyp in nog ‘n pompkamer. Van daar vloei dit in ‘n stroom teen die koppie af tot in Albrechtstraat voordat dit laer af in ‘n stormwaterkanaal wegspoel.
Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid, sê die metro is bewus van die probleme hier.

Besorgte inwoners het Vrydag 20 Maart die hoeveelheid water wat in Albrechtstaat afstroom, gemeet. Daar loop ongeveer 120 liter/min, of ongeveer 172 000 liter/dag of ongeveer 5,2 miljoen liter per maand uit die twee pype wat lek. Dit kom neer op vars water gelykstaande aan ongeveer 130 mediumgrootte swembaddens wat per maand verlore gaan. Teen ‘n kleinhandel-munisipale tarief van ongeveer R33/eenheid (1 eenheid = 1000L) is die kleinhandelwaarde van hierdie verlies ongeveer R171 000 per maand.
DA-raadslid Frans Bothma sê in ‘n verklaring infrastruktuurbesteding in die Mangaung-metro bly ver onder die aanvaarde 8%-maatstaf, nou ongeveer 2% en styg slegs tot net onder 4% na aanpassings. Terselfdertyd is die waterhandelsrekening onder beduidende druk, met ‘n geskatte tekort van ongeveer R109 miljoen.
“Dit voorkom enige bydrae tot die kapitaalvervangingsreserwe, wat die munisipaliteit se vermoë beperk om verouderde infrastruktuur te vervang en die waternetwerk te onderhou. Nie-inkomste water, tans ongeveer 50,6%, is ‘n groot bydraer tot die finansiële krisis. Meer as die helfte van die behandelde water genereer geen inkomste vir die metro nie weens watterlekkasies, diefstal en onakkurate rekeninge,” sê Bothma.
Bothma sê die DA het die Metro Trading Services Grant (MTSG), wat deur die Nasionale Tesourie ingestel is, as ‘n sleutelgeleentheid geïdentifiseer om die metro se waterinfrastruktuur te kan opgradeer. Die program het ten doel om die prestasie en geldelike volhoubaarheid van munisipale handelsdienste, insluitend water en sanitasie, te verbeter met ‘n nasionale toewysing van ongeveer R54 miljard oor ses jaar.
Lees ook: Inwoners in Quaggafontein kamp uit teen maande-lange waterlek.
Mangaung kan oor die volgende drie jaar naby R1 miljard ontvang, maar hierdie fondse is prestasie-gebaseer en afhanklik van geloofwaardige hervormings, verbeterde bestuur, en die bereiking van diensleweringsdoelwitte.
Bothma sê vordering word deur die metro gemaak deur inisiatiewe soos die opgradering van die Maselspoort-watersuiweringsaanlegte, die installering van grootmaatwatermeters, en die uitrol van voorafbetaalde meters.






You must be logged in to post a comment.