Die 15-jarige Milah Redelinghuys van Wellington is onlangs as algehele wenner van die gewilde SingSterre-Afrikaanse ligte-liedjie-kompetisie gekroon met haar oorspronklike liedjie “Bittermooi Boland”.
Dié gr.10-leerder aan die Hugenote Hoërskool het `n drievoudige oorwinning behaal – algehele wenner, wenner in die 14-tot-18 jaar-afdeling én die eerste plek in die oorspronklike-liedjie-afdeling. Sy was die enigste Kaapenaar wat aan dié kompetisie deelgeneem het.
LUISTER na `n verkorte weergawe van die liedjie onder:
“Ek is regtig baie dankbaar vir die geleentheid om te kon deelneem en so goed te kon vaar. Dit het my `n tydjie geneem om werklik te besef dat ek die algehele wenner is,” het Mila aan Paarl Post gesê.
Die liedjie oor die Boland is geskryf om die skoonheid van die streek met die res van Suid-Afrika te deel. Een van die beoordelaars het ná haar optrede gesê hy kon die Boland “proe” soos Milah die gehoor op reis geneem het.
“Ek was baie trots om ‘Bittermooi Boland’ in Pretoria te kon sing. Ek hoop nou die hele land weet hoe mooi hierdie deel van Suid Afrika is,” vertel sy.
Boland nooi met `n sagte hart
Milah se ma, Aniel Redelinghuys, het die lirieke geskryf en Milah en Melissa van der Spuy het die musiekverwerking gedoen.
Aniel beskryf haar dogter as `n introvert met `n sagte hart en iemand wat besef haar talente kom van die Here af.
Milah speel al klavier vandat sy vier jaad oud is. `n Lofsang-en-aanbiddingsleier by hul kerk het haar op negejarige ouderdom geleer om akoorde te speel en ontdek dat sy kan sing. Sy speel ook kitaar en neem musiek as vak op skool. Die tiener vertolk ook `n hoofrol in die Grease-musiekblyspel by Hugenote en wil eendag dieëtkunde studeer terwyl sy aanhou musiek maak.
Haar sangafrigting ontvang sy by die welbekende sangafrigter Liana Marx in Brackenfell. Milah het haar stemafrigter, Liana Marx, ná die kompetisie vir haar ondersteuning bedank.
Die sangskool het al talle bekende sangers soos Tasche Burger van The Voice SA-faam, Demi-Lee Moore en Andriëtte opgelewer.
“Ons vlieg binnekort Gauteng toe om `n musiekvideo te skiet en ook `n nuwe liedjie op te neem. Dit is alles deel van haar pryse wat sy gewen het,” het Liana vandeesweek aan TygerBurger gesê.
“Ek is vreeslik trots op haar. Sy het so hard gewerk en hierdie kompetisie baie geniet.”
Henry Smith, ’n mediese student aan die Universiteit van Pretoria, was die naaswenner. Die drie sangers Triple Thread, met die Hoërskool Zwartkop-leerders Jané Badenhorst en Dedré de Clercq en Lané Haasbroek van die Hoërskool Eldoraigne, was die derdeplekwenners.
* Volg Milah op Instagram (Milah Musiek) en Facebook (Milah Redelinghuys).


