Noordkaap Bulletin

Beleef ‘oorweldigende, vreugdevolle’ blommeprag by Love Dahlias-fees in Douglas

Mareli Visser
‘n Eerste Love Dahlias-fees vind in Douglas plaas. FOTO: Verskaf

DOUGLAS – “Wanneer dahlias in volle blom is, is dit nie net ‘mooi’ nie. Dis oorweldigend. Dis vreugdevol. Dis die soort skoonheid wat jou stilmaak.” Só vertel Mareli Visser wat vanaf 18 tot 21 Maart saam met haar span aan die roer van sake van die eerste Love Dahlias-fees in Douglas is.

Mareli, gebore en getoë in Douglas, kweek reeds vir vier jaar dahlias en bedryf ook ‘n aanlynbolwinkel in dié Noord-Kaapse dorp. Sy is veral bekend as die Koekedoor-wenner van 2015, skrywer van verskeie boeke, insluitend die broodresepteboek, Uitgerys, en voormalige TV-aanbieder van “Die Koektannie” op VIA TV.

Die blommeprag wat sy telkens op haar boetiekblomplaas beleef, het haar geïnspireer om die ervaring een keer per jaar behoorlik tydens ’n fees te deel.

Blomliefhebbers, tuiniers, skeppende siele en elkeen wat blomme waardeer, word genooi om dié piekblomseisoen te beleef. ‘n Groot verskeidenheid aktiwiteite – onder meer werkswinkels en uitstaande kulinêre ervarings tydens bespreekte etes – word aangebied. Kaartjies vir van die aktiwiteite is reeds uitverkoop, en belangstellendes word aangeraai om die webwerf te besoek vir meer detail en meer oor die program.

Dagbesoekers, wat bloot net die fees wil besoek om die blommeskouspel te beleef, is welkom. ‘n Koffiewinkel en ‘n mark-area is onder meer beskikbaar.

Die fees begin daagliks om 08:00 en duur tot ongeveer middernag.

Alle opbrengste uit die kaartjieverkope is ten bate van die Hoërskool Douglas om die skool en die plaaslike kinders wat die dorp sy gees gee, te ondersteun.

LEES OOK: Love Dahlias Festival: Experience a blooming adventure in Douglas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article