KAAPSTAD – Asof dit nie genoeg is dat Kapenaars moes afstand doen van hul geliefde Nuweland-rugbystadion nie, is die spyker nou ook in die doodskis van die geliefde Wee-Pee, oftewel Westelike Provinsie rugbyspan wat voorts bekend sal staan as Stormers XXIII, ‘n besluit wat Kaapse rugbyliefhebbers behoorlik warm onder die kraag het.

Die aankondiging is onlangs deur die Westelike Provinsie Rugbyunie gemaak en het onmiddellike hewige reaksie ontlok van ondersteuners wat die naam as deel van die provinsie se rugbyerfenis beskou.

Afrigter John Dobson het die besluit verdedig en gesê dit is geneem om die span se handelsmerk te versterk en om verwarring tussen die Stormers-span wat in die Verenigde Rugbykampioenskap (URC) meeding en die span wat in Curriebeker-kompetisie speel, uit te skakel.

“Ons moet met die tye saambeweeg. Die realiteit is dat rugby ‘n besigheid geword het en ons moet ons handelsmerk versterk om volhoubaar te bly. Die Stormers-naam het internasionale erkenning en dit maak sin om dit regdeur ons strukture te gebruik,” het Dobson gesê.

Hy het bygevoeg die naamverandering sal help om die span se bemarkingswaarde te verhoog en jonger ondersteuners te trek.

Skerp kritiek vanuit verskeie oorde

Voormalige WP en Springbok losvoorspeler Rob Louw het behoorlik sy mond hieroor uitgespoel.

“Westelike Provinsie rugby is nie net ‘n naam nie, dit is ‘n identiteit wat oor meer as 140 jaar opgebou is. Om dit weg te gooi vir handelsmerke en bemarkingsdoelwitte is ‘n skande. Wat volgende? Gaan ons die blou-en-wit trui ook verloor?” het Louw gevra.

Hy het gesê die besluit wys ‘n gebrek aan respek vir die geskiedenis van die provinsie se rugby en die duisende spelers wat die trui met trots gedra het.

Louw het bygevoeg dat die naam Stormers, in die eerste plek heeltemal onvanpas is vir die span van die Westelike Provinsie en dit moes nooit in die eerste plek gebeur het nie.

“Al dra ‘n aap ‘n goue ring bly hy steeds ‘n lelike ding”, sê Fritz Joubert, afgetrede joernalis.

“Dis die gesegde wat by my opgekom het toe ek lees die WP se Curriebekerspan word nou Stormers XXIII. Jy kan nie ‘n stuk van ons rugbygeskiedenis eenkant toe smyt en dink dat jy met ‘n nuwe naam ‘n beter of suksesvoller toekoms skep nie.”

“Ek is seker uit die oude doos, maar ‘n naam moet vir mens iets sê van jou komvandaan. Dit is wat die Westelike Provinsie altyd was – ‘n streek in die weste wat geassosieer is met die see, berge, vrugte, wyn en goeie rugby. Stormers? Wat sê dit? Net nog ‘n nulliteit.

“Boonop is die gehalte van die rugby wat die eintlike Stormers speel – dis nou die span in die “Eerste Liga” – deesdae van so ‘n aard dat dit niemand inspireer nie. Daarom is daar by my geen entoesiasme vir nog ‘n soort Stormers in watter hoedanigheid ook al nie.

Lesers spoel hul mond uit

Novanews-lesers was ook nie skaam om hulle menings te lug nie.

“Dis ‘n tragedie. My oupa, my pa en ek het byna grootgeword op Nuweland en vir WP geskree. Wat moet ek nou vir my seun sê? Dat ons tradisie niks meer werd is nie?” het Johan le Roux.

Ben Jonker spoel behoorlik monduit: “So nou het die unie besluit WP moet gaan, en heel waarskynlik ook die ikoniese Kaap Disa, net soos ons ikoniese stadion moes gaan!?! … Gewetenlose amptenare wat geen deelname gehad het aan die mense van die Kaapse Metropool wat hierdie unie al die jare ondersteun het nie. Ek wed dus dat om die probleme vir Stad Kaapstad op te los, en nie WP-rugby nie, hulle meer wedstryde op ander velde sal speel, soos ons in PE weg van hul ondersteuners gesien het. Ons is, soos jy gesê het, julle ankerhuurder en as sodanig moet die unie voorkeur kry. Stad Kaapstad se slim gesleepte ‘volgens die huurooreenkoms’ het nie ongemerk verbygegaan nie. Dit is tipies om regs-taktiek te gebruik in plaas daarvan om oorvloedig om verskoning te vra. Ek het ook opgemerk dat die ‘dit sal nie weer gebeur nie’ ook nie te voorskyn gekom het nie. Aan Dobson en WP-rugby, julle het ‘n pragtige stadion gehad. ‘n Besonderse en ikoniese stadion wat nou verlate lê – nou die enigste Unie sonder hul eie stadion – oorgelaat aan die genade van Stad Kaapstad! Walglik!

‘n Leser van Paarl het gesê: “Hulle kan die naam verander soveel as wat hulle wil, maar vir my sal dit altyd Westelike Provinsie bly. Jy kan nie geskiedenis net so uitvee nie.”

Marius Weyers sê: “Westelike Provinsie Rugby is so ryk aan tradisie en kultuur dat dit dom en ‘n absolute sonde sal wees om na Stomers XXIII oor te skakel. WP-kleure in enige vorm van sport in die Kaapse-streek is die grootste prestasie!!!

‘n Stellenbosser het sy frustrasie uitgespreek: “Eerste Nuweland, nou die naam. Wat gaan hulle volgende van ons afvat? Rugby was altyd oor tradisie en gemeenskap, maar nou gaan dit net oor geld.”

Buhlebezulu Bomela sê eenvoudig net: “Nuweland-stadion is weg, nou WP ook.”

Cobus du Plessis vra eenvoudig tong in die kies: Dis regtig nog nie tyd vir ‘n April-grappie nie!

Randall Myburgh sê: Dit gaan nie werk nie! Moenie die tradisie weg vat wat al die jare staan as Westelike Provinsie, of as Province nie.

Niekie Boonzaaier: Pateties! Eers bly Nuweland in die slag en nou naams verandering. Wat is volgende?

En laastens sê Ben Burger van Bellville: WP ! Spreek dit uit soos jy wil! “Stormers” was in elk geval net ‘n reklame foefie sodat die trui en “branding” na willekeur kon verander! Seker maar te doen gehad met die Kaapse Winterweer !

Maar die Westelike Provinsie Rugbyunie het gesê die besluit is finaal en die span sal van die 2026-seisoen af as Stormers XXIII bekend staan.

ALSO READ: Burger Snr blasts administrators who “feel nothing for tradition”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article