Kaapstad
‘n Hitte-waarskuwing is steeds in plek vir Kaapstad, weens die erge warm weerstoestande vandeesweek.

KAAPSTAD – Die hittegolf wat sedert Maandag 9 Maart Kapenaars na skaduwee onder bome laat soek, lugverkoelers effens hoër laat stel en waterbottels byderhand laat hou, heers tot einde vandeesweek, sê die Stad Kaapstad.

Die Moederstad het Dinsdag temperature in die hoë 30’s ervaar, terwyl Woensdag die 40°C-kerf verbygesteek het.

Charlotte Powell, rampsbestuur-woordvoerder, het Dinsdag gesê die Suid-Afrikaanse-weerdiens se hitte-waarskuwing vir die metropool en omliggende gebiede bly vir eers in plek.

Wat temperature aanbetref is vandag (Woensdag 11 Maart) die warmste dag wat vir die week voorspel word, sê sy. Die voorspelling dui daarop dat temperature vir die res van die week tot Vrydag geleidelik sal daal. Die maksimum temperature sal daarna terugkeer na die middel- tot hoë 20’s.

“Tot dusver is nog geen hitte-verwante noodgevalle aan rampsbestuur aangemeld nie, maar ons wil die publiek herinner om assblief alles moontlik te doen om die impak van die hitte te verminder,” sê Powell.

Die publiek word ook herinner om spesiaal aandag te skenk aan die behoeftes van kinders, ouer persone, troeteldiere en ander kwesbare groepe.

Daar is ook gewaarsku dat mense strawwe buitemuurse aktiwiteite vir eers moet uitstel, veral tydens die warmste deel van die dag om sodoende hitte-uitputting te voorkom.

Powell sê verder die hitte-waarskuwing verhoog ook die risiko van brande. Mense moet dus versigtig wees rondom vure en word aangemoedig om brande, of enige noodgeval aan die Stad se Openbare Noodgevalle Kommunikasie-sentrum aan te meld by 021 480 7700.

NovaNews het vroeër ook berig oor die hittegolf oor die westelike dele van die Namakwa-distrik en kusgbied van die Noord-Kaap, asook die westelike en suidwestelike dele van die Wes-Kaap. Die hittegolf, word berig, sou na verwagting vandeesweek na die Klein Karoo, Sentraal-Karoo en westelike dele van die Tuintroete uitbrei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article