Vrystaat het die res van die land jaloers met vooruitsigte vir herfs

Die son steek laat Vrydagmiddag 6 Maart kop uit nadat swaar reën in die Oos-Vrystaat uitgesak het. Die foto is op 'n plaas in die Bethlehem-distrik geneem nadat 80mm reën geval het.
Die son steek laat Vrydagmiddag 6 Maart kop uit nadat swaar reën in die Oos-Vrystaat uitgesak het. Die foto is op ‘n plaas in die Bethlehem-distrik geneem nadat 80mm reën geval het. FOTO: Hendrik Knobel

Inwoners van die sentrale streek van die land kan hulle gereedmaak vir lieflike herfsdae en, na verwagting, nog lekker reën.

Dit kom nadat swaar reën sedert Donderdagnag en Vrydag oor groot dele van die Vrystaat uitgesak het, ’n welkome verligting ná die uitermatig warm toestande wat die binneland van Suid-Afrika gedurende Februarie beleef het.

Op sommige plekke is op Vrydag 6 Maart tot 84mm reën binne 24 uur gemeet.

Volgens Johan van den Berg, ’n landbouweerkundige van Bloemfontein, kan daar vanaf Vrydag 13 Maart tot einde van die maand weer beduidende reënval voorkom, en daar is ook ’n moontlikheid dat April verdere goeie neerslae kan meebring. 

Hy verduidelik dat die nat toestande hoofsaaklik veroorsaak word deur die La Niña-verskynsel wat langer voortduur as wat aanvanklik verwag is. Van den Berg voorspel egter dat ’n El Niño vanaf midwinter kan begin ontwikkel, wat waarskynlik minder reën vir die somer van 2026-’27 sal meebring, veral in die tweede helfte van die seisoen, terwyl die eerste ryp wat moontlik skade kan veroorsaak eers teen Mei verwag word.

Len Smith van Kroonstad, wat reënvalstatistieke byhou, sê dat hy teen Saterdag 7 Maart reeds 85mm reën vir die maand in Kroonstad aangeteken het, wat gunstig vergelyk met dieselfde tyd verlede jaar toe sowat 80mm reën gemeet is.

Boere in die sentrale Vrystaat het soortgelyke neerslae ervaar: Manie van Niekerk van Langgeluk Beleggings, buite Kroonstad, het Vrydag 63mm reën gemeet.

Ook die oostelike dele van die provinsie het goeie reënval gekry, met die Bethlehem-omgewing wat verlede week ongeveer 80mm ontvang het, terwyl ’n inwoner van Bethlehem, Marilou Corver, in die Eureka-woonbuurt tussen 117mm en 121mm in die dorp gemeet het.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel vir die res van Maart aangename tot warm temperature van 24°C tot 29°C gedurende die dag; en koeler nagte van 13°C tot 17°C.

Gedurende April sal die provinsie algemene herfsweer ervaar met dagtemperature van 22°C tot 25°C en nagtemperature van 10°C tot 12°C, terwyl reënval afneem en slegs enkele donderbuie moontlik is.

Volgens die weerdienste kan April se weer as ideaal beskryf word, met lekker warm sonskyndae, koeler nagte en reën wat stelselmatig afneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article