Weslander

Vermeende skaapdiewe rand Lambertsbaai-boer aan tot in hospitaal


WESKUS – ‘n Geliefde boer van Lambertsbaai is in ‘n kritieke toestand na ‘n Kaapse hospitaal gevlieg nadat hy ernstig aangerand is deur vermeende skaapdiewe.

Hugo Louw het glo vanmiddag (Donderdag 5 Maart) drie mans langs die pad na Lambertsbaai ‘n rygeleentheid gegee. Hy is boer in die gebied wat ook bekend daarvoor is dat hy en sy orkes lekker dansmusiek maak.

Met die opklim van die mans agterop sy bakkie het hy hulle gevra wat in die sakke was wat hulle by hulle gehad het.

Die mans het hom hierop begin aanrand, want hulle het na bewering vleis van ‘n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap in die sakke gehad. Die skaap is deur die nag op ‘n plaas geslag.

Ian Turner, bekende sakeman en boer van die omgewing, het aan Weslander gesê Louw het ernstig kopwonde opgedoen. Hy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan en soos wat hy gekeer het, is sy hande met messe gesteek.

‘n Plaaslike dokter het Louw behandel en bygestaan totdat paramedici opgedaag het.
Volgens Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue is Louw daarna gestabiliseer voordat hy met ‘n Netcare 911-helikopter na die Kaap gevlieg is.

Turner beskryf Louw as ‘n Sandvelder in murg en been.

Van die plaaslike boere het help spoorsny tot hulle twee van die vermeende aanvallers opgespoor het waar hulle in die bosse wegkruip.

Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is daar vier mans in verband met die saak in hegtenis geneem. Lede van die veediefstaleenheid ondersoek die saak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article