“Hoekom het hulle my broer geskiet?”
Dít is een van die vele vrae waarmee Samantha Arendse (35) worstel nadat haar geliefde broer een nag in ‘n raaiselagtige skietvoorval dood is.
Samantha se broer, Nico Arendse, is voorverlede Maandag (23 Februarie) in die vroeë oggendure koelbloedig vermoor.
Luidens ‘n polisieverslag het die skietvoorval omstreeks 03:30 op die hoek van Grootboomlaan en Agstestraat in Strand plaasgevind. Die 30-jarige Arendse is dood, terwyl geen ander persoon beseer is nie.
Die omstandighede rondom die skietvoorval is tans onbekend, maar presies wat tot die misdaad gelei het, vorm deel van die Strand-polisie se ondersoek in ‘n moordsaak.
Geen ingehetenisneeming is tot dusver in verband met die moord gemaak nie en die ondersoek duur voort.
Daardie oggend speel herhalend in Samantha se kop af, behalwe dat dit meer vrae laat ontstaan oor wat gebeur het en wat kon gewees het.

Alhoewel Samantha erken dat Arendse ‘n bendelid en dwelmgebruiker was, voel sy hy het beslis nie verdien om so wreed vermoor te word nie.
“Ja, hy het gerook, maar hy het nie mense seergemaak nie,” verduidelik Samantha.
Sy voeg by dat mense wat hom veroordeel bewus moet wees van hoe haar broer grootgeword het.
Samantha vertel hy was slegs ses jaar oud toe hulle ma gesterf het en hy moes deur ander grootgemaak word.
“Ek weet nie of dit as gevolg van my ma se dood is nie.”
Arendse se suster verduidelik dat hy van ‘n jong ouderdom in jeugsentrums in aanhouding was en deur die jare in en uit die tronk was.
Maar dit is nie al wat hy was nie. Sy suster beskryf hom as ‘n grapjas en medemenslik. “Ag, hy het net geweet hoe om aan my sterre te krap,” vertel Samantha deur ‘n huilende glimlag.
Omdat sy die ma-figuur in sy lewe was, het sy voortdurend met Arendse oor sy negatiewe gewoontes gepraat en sy het gevoel dat hulle naby aan ‘n deurbraak was.
Twee weke voor die skietvoorval het sy met hom gesmeek om sy dwelmgewoonte stop te sit en aangebeid om saam met hom die reis na nugterheid aan te pak. Sy woorde aan haar was: “Tietie, ek rook nie eens meer so baie nie.”
Voorverlede Sondag (22 Februarie) het hy weer eens planne vir sy toekoms uitgespreek en sy wens was om uit Strand te trek om van “die elemente” weg te kom.
Arendse het volgens sy suster ook daarvan gedroom om eendag ‘n pa te word.
Dit was die laaste gesprek wat Samantha met haar broer gehad het.
Volgens Samantha het sy voorverlede Maandagoggend omstreeks 03:00 skote buite haar woning hoor klap, maar het niks daarvan gedink nie en probeer om weer te slaap.
Na ‘n tydjie het hul suster aan haar deur kom klop om te sê Arendse is geskiet. Sy het haar toe na die toneel gehaas, wat om die draai is van waar sy woon.
“Al wat deur my kop gegaan het, was ‘Here asseblief!’ ” sê sy. “Toe ek daar aankom, toe lê hy net daar met sy mond oop en snak na lug, en sy oë kyk na my. Dit het my hart gebreek omdat hy miskien vir my iets wou sê.”
Sy sê dis waar al die vrae begin het. Sy beweer die nooddienste het te lank gevat om by die toneel op te daag en vra hoekom die polisiebeamptes wat op die toneel was nie haar broer brandweerstasie toe kon vervoer nie.
“Ek kan nie sy dood op hulle sit nie, want die persoon het gekom om my broer dood te skiet, maar miskien – mens weet nie – kon hy gelewe het,” sê ‘n verwronge Samantha.
‘ons kinders se bloed is op julle hande’
Met al hierdie vrae in haar kop moet sy haarself tot rus bring.
“Die persoon wat vir Nico doodgeskiet het, loop nou rond, maar ten minste kon hulle net vir ons sê hoekom,” sê sy terwyl die trane rol.
“As Nico iets aan hulle gedoen het, sou ek verstaan, maar ek wil net weet hoekom!”
Samantha se hart glimlag met hoe die buurt van Erijaville Arendse se dood ontvang het.
Sy wil hê dat Arendse se goedheid die herinnering is wat hulle vashou.
Sy voel, hoewel dit nog nie vasgestel is nie, dat Arendse se moord bendeverwant is en dat dit ‘n groot probleem in die gebiede is omdat dit môre iemand anders se broer of kind kan raak.
“Ons moet die bendes uit ons plek kry – hulle moet net gaan!”
Die oorledene se tannie, Katy Arendse, is ‘n gemeenskapleier in Erijaville en met wie hy ‘n spesiale verhouding gehad het nadat sy ma afgesterf het.
Katy beskryf Nico as ‘n lieflike jong man wat regtig nie ‘n vlieg sou seermaak nie. “Ja, hy het dwelms gebruik, maar hy het nooit iemand beroof nie,” sê Katy.
“Ons kinders is vasgevang in die dwelms en nou moet ons opstaan!”
Sy verduidelik hoe die gebruik van dwelms chaos in die gebied veroorsaak en doen ‘n beroep op ouers en owerhede om meer te doen.
“En as julle niks doen nie, is die bloed van die kinders op julle hande!”
Die familie hou vanaand (Woensdag 4 Maart) om 19:00 ‘n gebedsbyeenkoms by die toneel waar Arendse sy laaste asem uitgeblaas het.
Môre (Donderdag 5 Maart) sal daar om 20:00 ‘n roudiens by Samantha se woning in Erijaville gehou word.
Arendse sal eerskomende Saterdag (7 Maart) begrawe word, met ‘n besigtiging by Samantha se huis om 08:00 gevolg deur die begrafnisdiens om 09:00 by die Evangelistic Mission Faith Chapel kerk in Vyfdestraat.






You must be logged in to post a comment.