Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts
Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts Credit: Picasa

ATLANTIS – Woensdagmiddag (25 Februarie) was nie soos enige ander dag in Atlantis nie. Dit het in hartseer en trauma vir baie geëindig toe skieters op ’n taxi-eienaar voor die Atlantis Sekondêre Skool losgebrand het. Een leerder is doodgeskiet en twee leerders is in die proses gewond.

Die koeëls was na bewering bedoel vir Eugene Titus (42), algemeen bekend as “Spoed”. Hy het voor die skool vir sy passasiers gesit en wag toe onbekende mans, wat vermoedelik reeds ’n geruime tyd voor die skool rondgedrentel het, op hom toegeslaan het.

Die hartseer toneel voor die skool. Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts
Die hartseer toneel voor die skool. Polisielint om die misdaadtoneel gespan. Foto: Murphy Roberts Credit: Picasa

Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, is Titus verskeie kere geskiet, terwyl ‘n 14-jarige graad-8-leerder wat van die koeëls probeer wegkom het, verskeie kere in die bors getref. Hy het op die skoolterrein voor ander leerders inmekaargesak en gesterf.

Volgens ’n betroubare bron het Titus verlede week ‘n soortgelyke aanval oorleef, waarna hy glo al verskeie kere weer met die dood gedreig is.

Twee dubbele moorde op Atlantis in minder as 24-uur het die dorp behoorlik op hol. Twee mense, waaronder ’n taxieienaar en ’n taxibestuurder, is Dinsdag 24 Februarie doodgeskiet. Volgens Munro het die voorval vroegaand by die taxistaanplek in Witsand plaasgevind. Een man het op die toneel aan verskeie skietwonde beswyk, terwyl die ander slagoffer kort daarna in die Wesfleur-hospitaal gesterf het.

Raadslede en gemeenskasleiers gesels met Glodine Smith van die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum. Kloksgewys van voor staan Janice Breytenbach (‘n DA-parlementslid), gemeenskapsaktivis Peter Stoffberg, Ian Cameron (‘n DA-parlementslid) en Nicholas Gotsell (afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies). Foto: Murphy Roberts Credit: Picasa

Dit bring die aantal slagoffers in voortslepende taxigeweld in Atlantis op vier te staan. Die tweede voorval voor die skool, wat volgens bronne ’n wraakaanval was, het die Atlantis-gemeenskap tot in sy fondamente geskok.

Die polisie het bevestig die voorval is níé bendeverwant nie, maar deur die taxigeweldeenheid ondersoek.

Volgens ’n ingeligte bron was die twee oorledenes in Witsand lede van Cape Amalgamated Taxi Association (CATA), terwyl Spoed ’n lid van die Congress of Democratic Taxi Associations (CODETA) was.

Met emosies wat hoog loop en ’n sterk polisieteenwoordigheid, het WeskusNuus verneem dat skole vandag hul leerders vroeër huis toe gestuur het. Volgens die hoof van die Atlantis Sekondêre Skool is die skool vandag gesluit en berading is deur die departement van onderwys beskikbaargestel.

‘n Afvaardiging van die Stad Kaapstad het ook vanmiddag die dorp besoek om met die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum te beraadslaag.

Volgens Munro is daar nog geen verdagtes in een van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

WeskusNuus het verneem dat een van die leerders wat in die rug getref is, tans buite gevaar is en in die hospitaal aansterk. Die ander leerder is vir sy wonde behandel en reeds ontslaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article