Pieter Kotze McCarthysrus
Belowende wolke by McCarthyrus. FOTO: Facebook / Pieter Kotze

Donderstorms met swaar reënbuie kom sedert die naweek oor ‘n groot deel van die sentrale binneland tot teen die oostelike kusgebied voor. Veral Noord-Kapenaars juig oor die mildelike reën wat boonop die berugte Februarie-hitte pootjie.

Water stroom deur Van Wyksvlei. VIDEO: Verskaf

Teen Dinsdagoggend, op die Facebook-blad Reënval in SA, laat weet Pieter Kotzé vanaf McCarthyrus wat aan Botswana grens, dat Maandagnag nog 28mm reën gebring het, met die totale reënval sedert Saterdag 158mm.

Hugo Vorster skryf dat Victoria-Wes oornag geseën is met ‘n verdere 10mm reën, wat die totaal sedert die vorige nag op 34mm bring. Vorster het ook ‘n video van Sticka Maraitjies van Richmond geplaas van die Ongersrivier in vloed, en skryf dat Richmond 36mm reën ontvang het.

Vic Wes Hugo Vorster
‘n Nat straat in Victoria-Wes. FOTO: Facebook / Hugo Vorster

“Dit reën baie lekker en hard hier in Beaufort-Wes,” laat weet Thea Mostert. Reisigers wat Dinsdag vanaf Kimberley na Kaapstad onderweg is, laat weet dat hulle tot dusver vir die grootste deel van die roete reën gekry het – verby Strydenburg, Britstown en Victoria-Wes.

Esther van Wyk vanaf Fraserburg skryf dat hulle Maandag vanaf 15:00 sowat 26mm reën gekry het “en toe kom die hael”.

Ester van Wyk Fraserburg
Reën én hael het in Fraserburg neergeval. FOTO: Facebook / Ester van Wyk

Sam Baklie van Kuruman skryf Maandag laatmiddag dat dit “non-stop” rondom Kuruman reën nadat nagenoeg 90mm reën reeds in die vorige dae daar uitgesak het.

Len Fourie van Upington, wat teen die Oranjerivier bly, meet soos gewoonlik die vlak van die rivier volgens die 29 trappies vanuit sy tuin tot in die rivier. Sy Facebook-plasing op 24 Februarie is soos volg: “Trappies 11/29: Oranjerivier het verder gestyg sedert gister en tans 11 trappies onder die water. Ek dink ons gaan ‘n tydjie hierdie hoogte sien en dalk nog 1 trappie hoër later die week. Miswolke wat inrol vanuit die suide en dis sommer behoorlik koel vanoggend na die baie reën wat ons beleef het. Die wêreld is sopwaternat deurdrenkdankbaar en syfers van 56mm (self gemeet) tot 70mm in om Upington die afgelope 2 dae.”

Len Fourie Upington
Teen Dinsdag was 11 van 29 trappies reeds deur die Oranjerivier se vlak bedek. FOTO: Facebook / Len Fourie

Reënval die tyd van die jaar in die Upington-omgewing waar onder meer rosyntjies in die son gedroog word, is altyd ‘n teer saak. Aan die een kant word reën altyd verwelkom, maar aan die ander kant benadeel dit die rosyntjiedroogproses.

Vanaf Springbok skryf Zelda Odendaal op Maandag dat dit slegs 17oC is, met ‘n fyn misreëntjie wat uitsak. Nog plekke wat neerslae ontvang het, en deurgegee is na Reënval in SA, is Jacobsdal, Kimberley, Nieuwoudtville, Hotazel, Calvinia, Van Wyksvlei en Kakamas.

Reën lei na skouspel

Die Gariepdam, die grootste opgaardam in die land, was volgens statistiek op 16 Februarie ongeveer 108% vol, met die Vaal-, Vanderkloof- en Bloemhofdam wat ook goed vol is. Weens water wat uitgelaat word, styg die vlak van die Oranjerivier en word voorspel dat die Augrabies-waterval – “plek van groot geraas” – binnekort nog ‘n groter dreuning en ‘n bruisende skouspel gaan veroorsaak.

Genevieve Maasdorp, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke in die ariede streek, het op 23 Februarie gesê dat die water by die val tans ‘n vloeitempo van 838 kubieke meter per sekonde het. Voorheen is gesê dat ‘n vloeitempo van normaalweg 30 tot 50 kubieke meter per sekonde aangeteken word. In vroeg verlede jaar – na wydverspreide reën in opvanggebiede – is ‘n piek van nagenoeg 4 700 kubieke meter per sekonde voorspel.

LEES OOK: Bruisende skouspel duur voort by Augrabies-waterval -‘plek van groot geraas’

Vir Dinsdag, volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens, word erge donderstorms gepaardgaande met swaar reënbuie wat tot oorstromings van sommige paaie, nedersettings, laagliggende gebiede en brûe kan lei, voorspel oor dele van die Oos-Kaap, uiterste suidelike dele van KwaZulu-Natal en die uiterste suidoostelike dele van die Noord-Kaap. Donderstorms met swaar reënbuie word ook voorspel vir die oostelike dele van die Wes- en Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat (behalwe die uiterste noordoostelike dele), en KwaZulu-Natal.

Strome water in die Van Wyksvlei-omgewing. VIDEO: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article