Jana Marx, politieke redakteur van die nuwe Afrikaanse weekblad, Die Papier.

Laasjaar dié tyd was die begin van ’n donker paar maande vir finansiesminister Enoch Godongwana. Die voorstel oor belasting op toegevoegde waarde (BTW) het liederlik in sy gesig ontplof. Die begrotingsrede is sommer twee keer uitgestel en die regering van nasionale eenheid (RNE) het die fiasko amper nie oorleef nie – om nie eens te praat van hoe die markte geskrik het nie.

Daarom is die mees opwindende ding van die 2026-begroting dat niks opwindends verwag word nie. Kom ons noem dit sommer ’n vervelige begroting – en dankie tog daarvoor.

Dat die plaaslike verkiesings vanjaar gehou word, help natuurlik ook. Geen party wil sy kiesers nou te vies maak nie.

Tog is kalmte nie al rede waarom Godongwana vanjaar ’n huppel in sy stap sal hê nie…

Die rand is sterker as ’n jaar gelede (al is dit deels weens ’n swakker dollar). Staatsleningskoste het gedaal, wat laer skulddienskoste beteken. Dít beteken weer daar is meer geld vir dinge soos dienslewering. Operation Vulindlela doen uitstekende werk met strukturele hervormings wat beleggers breed laat glimlag, Suid-Afrika is van die Finansiële Aksietaakmag (FATF) se gryslys verwyder, S&P Global Ratings het die land opgegradeer en die vooruitsig na positief aangepas, en die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) het ’n sterk jaar beleef.

Beslis nie ’n slegte agtergrond vir ’n begrotingsrede nie!

Boonop dui alles daarop dat die begrotingsyfers vanjaar weer beter gaan lyk as waarvoor die tesourie begroot het – hoofsaaklik omdat die staat meer geld ingekry het, nie omdat hulle merkwaardig besnoei het nie. Ekonome reken hierdie ligpunt alleen wys dat ongemaklike belastingheffings waarskynlik nie vanjaar op die tafel sal wees nie.

Die tesourie moet egter steeds die boeke laat klop en die minister wil sowat R20 miljard se belasting vanjaar insamel – tensy ander belastings die gat toestop. ’n Groter as verwagte mynbou-belastinginkomste behoort hier te help.

Die afgelope twee jaar het die regering nie die belastingkerwe vir persoonlike belasting vir inflasie aangepas nie – en stil-stil só ’n paar rand gemaak. Maar die beter as verwagte inkomste skep ruimte vir ’n moontlike (en welkome!) aanpassing vanjaar.

Ekonome bespiegel ook oor ’n moontlike 20%-nasionale belasting op aanlyn dobbelary. Die tesourie is al ’n ruk besig met konsultasies hieroor. Volgens die South African Accounting Academy sal so ’n heffing omtrent R10 miljard se inkomste vir die regering genereer.

ALSO READ: Medium-Term Budget 2025: Godongwana announces debt stabilisation, 3% inflation target

Ek hou nie my asem op vir nuus oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie. Dis immers verkiesingsjaar en Godongwana deel nie die president en dr. Aaron Motsoaledi se geesdrif oor die NGV nie. Trouens, Godongwana het hom in November weer skerp uitgespreek teen die skrapping van mediese belastingkrediete vir mense wat meer as R700 000 verdien – een van die planne om die NGV te finansier.

Maar net omdat daar vanjaar nie ’n krisis is nie, beteken nie die staat kan op sy louere rus nie.

Wanneer Godongwana môre by die parlement instap, sal hy steeds die gewig van ’n skuldlas, wat byna 78% van die bruto binnelandse produk insluk, voel. Hy weet dat miljarde wat dienslewering kon verbeter, steeds gaan om skuld te betaal. Hy weet goed dat ekonomiese groei veels te stadig is.

Die huidige momentum is broos en beleggers sal verby die minister se retoriek kyk op soek na tekens van goeie fiskale dissipline. Dis die verskil tussen ’n tydelike opflikkering en ’n volhoubare goeienuusstorie.

  • Marx is die politieke redakteur van die nuwe Afrikaanse weekblad, Die Papier, wat vanaf  6 Maart verskyn. Sy was tot einde Januarie die ekonomiese beriggewer by Business Day.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article