ATLANTIS – “Sy was nie net my klein dogtertjie nie, maar ook my bestie,” vertel die ma van die vyfjarige La-meecha Geland, wat verlede Dinsdagoggend (17 Februarie) op pad kleuterskool toe voor haar oë doodgery is.
Volgens La-Meecha se ma, Mickalah, kon sy hoor hoe die bestuurder van die motor spoed optel in die pad wat van skoolkinders wemel. Met trane wat vrylik rol, vertel sy die oggend het soos enige ander dag vir hulle begin.

“Sy sou eers haar gunsteling-TV-program, Timmy, kyk terwyl ek haar regmaak vir die skooldag. Ek het haar self elke oggend weggeneem en gaan haal, juis omdat ek dalk té oorbeskermend oor haar was,” vertel sy.
“My uitgesproke dogtertjie het baie vir ander kindertjies omgegee en almal elke oggend by die kleuterskool gegroet met: ‘Môre, my familie!’ Sy het op haar ouderdom geglo aan ‘sharing is caring’ en het elke oggend haar skoolgeldjie met ’n seun van ’n ander skool gedeel,” vertel Mickalah.
Die betrokke oggend, met vier rand in haar hand, het La-Meecha gevra: “Waar is die seuntjie?” En toe ons hom gewaar, moes ons omdraai sodat sy hom die helfte kon gee. Sy het hom ’n drukkie gegee en dit was toe dat ek hoor hoe die enjin van die motor harder begin brul soos die bestuurder spoed optel.
Die volgende oomblik het my kind deur die lug gevlieg,” vertel Mickalah, terwyl die trane nog vryer vloei.

“Ek het na haar gehardloop terwyl ek haar naam aanhoudend skree. Sy het etlike meters deur die lug geslinger. My kind het, terwyl ek met haar probeer praat, net begin blou raak en ek moes aanskou hoe sy voor my haar laaste asem uitblaas.”
Wat egter skokkend is, is die feit dat die bestuurder nie belanggestel het om te kom kyk of sy oukei is nie, vertel die ma. “Ek voel hy moet deur dieselfde hel gaan waardeur ek tans gaan, want ek kan nie my oë toemaak sonder dat die toneel voor my afspeel nie,” sê sy.
Die bestuurder, Diego Stevens (34), het Donderdag vlugtig op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en/of nalatige bestuur, asook bestuur sonder ’n lisensie, in die Atlantis-
landdroshof verskyn. Volgens die staat wag hulle op die uitslae van bloedtoetse en nog aanklagte kan bygevoeg word.

Stevens verskyn vandag (Dinsdag 24 Februarie) weer in die hof en sal vermoedelik om borgtog aansoek doen.
Hy bly tot dan nog in aanhouding.






You must be logged in to post a comment.