BOLAND – ‘n Jong seun se uitstappie na ‘n openbare swembad in Wellington het Saterdag (21 Februarie) ‘n tragiese nadraai geneem toe hy verdrink het.
Met temperature wat Saterdag byna 40°C bereik het in Wellington, het talle hulself gehaas na openbare swembaddens vir ‘n bietjie lafenis.
Die dag het omstreeks 14:00 egter ‘n hartseer wending geneem toe ‘n seun, na wat verneem word nege jaar oud, by die Weltevrede openbare swembad in die moeilikheid beland en verdrink het.
Drakenstein-munisipaliteit het die nuus in ‘n verklaring bevestig.
Luidens die verklaring het lewensredders aan diens die kind, wat gelyk het of hy probleme ondervind, in die water opgemerk en onmiddellik ingespring om hom uit die swembad te haal.
Lewensredders het begin met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) en resussitasiepogings voortgesit totdat nooddienste op die toneel opgedaag het.
“Ten spyte van alle pogings het die mediese span die afsterwe van die seun met leedwese bevestig. Drakenstein-munisipaliteit betuig ons opregte meegevoel aan die familie en geliefdes wat deur hierdie tragiese voorval geraak is.”





