KEMPTONPARK – AfriForum het ’n dagvaarding aan president Cyril Ramaphosa en dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, laat beteken as deel van dié burgerregte organisasie se regsaksie om die grondwetlikheid van die omstrede Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te betwis.
Die stap is op Woensdag 18 Februarie tydens ’n mediakonferensie by die vervalle Kempton Park-hospitaal aangekondig as ’n waarskuwing van dit wat op die land se gesondheidsektor kan wag sou NGV in werking gestel word.
Hoewel ander instellings reeds regstappe teen dié wet ingestel het, is dié aksieproses die eerste van sy soort teen die wet. AfriForum se dagvaarding voer ’n omvattende aanslag teen die NGV-wet en wys op die ongrondwetlikheid van verskeie bepalings daarin. Die aksieproses bied onder meer die geleentheid om deskundige getuienis in die hof te lewer indien daar dispute oor die feite voorkom.
Wian Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, sê die organisasie se regsaksie berus daarop dat die NGV-wet in stryd met die Grondwet is en daarom ongeldig verklaar en terug na die parlement verwys moet word.

Hoewel ander instellings reeds regstappe teen dié wet ingestel het, is dié aksieproses die eerste van sy soort teen die wet. AfriForum se dagvaarding voer ’n omvattende aanslag teen die NGV-wet en wys op die ongrondwetlikheid van verskeie bepalings daarin. Die aksieproses bied onder meer die geleentheid om deskundige getuienis in die hof te lewer indien daar dispute oor die feite voorkom.
Wian Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, sê die organisasie se regsaksie berus daarop dat die NGV-wet in stryd met die Grondwet is en daarom ongeldig verklaar en terug na die parlement verwys moet word.
Enkele punte van ongrondwetlikheid waarteen AfriForum beswaar maak, sluit in:
- Die verwatering van provinsiale regerings se grondwetlike magte.
- Die inperking van pasiënte se vryheid van keuse.
- Die inperking van die kliniese onafhanklikheid van gesondheidspraktisyns.
- Die gebrek aan rasionaliteit van die NGV-raamwerk weens die ekonomiese onwerkbaarheid daarvan.
Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, wys daarop dat die NGV-wet bepalings bevat wat nie net die grondwetlike regte van AfriForum se lede raak nie, maar ook dié van die publiek in die algemeen.

“Alle landsburgers en Afrikaners in besonder was al slagoffers van die ANC se ideologiese agenda. NGV is weer so ’n geval. Die ANC het reeds oorgenoeg bewyse ontvang dat dit nie mense se gesondheidsorg sal verbeter nie, maar hulle bly verkleef daaraan weens ideologiese redes. Dís waarom AfriForum dit nie kan laat voortgaan nie,” sê Van Zyl.
LEES OOK: Opposition slams health minister over “unsanctioned” NHI tax plans
In die lig van Suid-Afrika se huidige politieke en ekonomiese klimaat sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor gesondheid, dat NGV heeltemal onwerkbaar is. Volgens Boshoff is die slegste ding wat belastingbetalers nou kan tref die toewysing van fondse – ekwivalent aan 10% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk – aan ’n gesondheidsorgstelsel wat nooit effektief sal funksioneer nie.
“Die ware koste van NGV sal egter veel meer wees as die blote randwaarde daarvan. Die verlies aan onder meer grondwetlike regte en pasiënte se vryheid van keuse sal veroorsaak dat daar uiteindelik ’n veel hoër prys betaal word,” sê Boshoff.
‘Talle kwessies nie deurgewerk nie’
Volgens dié gekombineerde dagvaarding van 80 bladsye is die aangeklaagdes die president van die Republiek van Suid-Afrika, minister van gesondheid, minister van finansies, speaker van die nasionale vergadering, en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies, onderskeidelik as die eerste, tweede, derde, vierde en vyfde verweerder.
Die eiser, AfriForum, wil met hierdie aksie die NGV-wet ongrondwetlik laat verklaar gegrond op talle punte in die dokument uiteengesit.
Onder gebrek aan rasionaliteit rakende die NGV-raamwerk, word onder meer genoem dat die proses wat oor 15 jaar (sedert 2010) tot die NGV-wet gelei het, nie in staat was om ‘n finansiële uitvoerbaarheids-assessering hiervan te genereer nie. Hier word spesifiek verwys na die Davis Tax Commission se kommer hieroor ná die publisering van die Witskrif in 2017: “The large degree of uncertainty and lack of common understanding of how the NHI will be implemented and operate is of concern, given the magnitude of the proposed reform”.
Tot op hede is die en ander finansiële kwessies nog nie deurgewerk nie, aldus die dokument.
Dit word ook gestel dat verskeie bepalings in die wet deur vaagheid en onbepaaldheid gekenmerk word.
Volgens ‘n regeringsdokument beoog die NGV om Suid-Afrikaners van alle rasse, ryk of arm, asook wettige langtermyn-inwoners, se mediese uitgawes te dek, met een poel gesondheidsorgbefondsing vir private en openbare gesondheidsorgverskaffers.
“Wanneer mense gesondheidsorgfasiliteite besoek, sal daar geen fooie gehef word nie, want die NGV-fonds sal die koste van mense se mediese sorg dek op dieselfde manier as wat mediese fondse vir hul lede doen,” lui die dokument.
Hiervolgens sal dit befonds word uit algemene belastings, bydraes van persone wat bo ‘n vasgestelde bedrag verdien, en maandelikse bydraes wat deur die werknemers tot die fonds gemaak word.






You must be logged in to post a comment.