KIMBERLEY – Die Minerale Raad Suid-Afrika stuur ‘n senior bestuurspan na Kimberley ter ondersteuning van Ekapa Minerals ná die modderstorting by sy Du Toitspan-diamantmyn waar vyf kontrakwerkers vermis word.
Die werkers is Dinsdagoggend net na 01:00 deur ʼn modderstorting vasgekeer, en die reddingspoging is sedertdien aan die gang.
Intussen sê die Ekapa-maatskappy se hoofbestuurder dat hulle nie kan voorbly om water uit die betrokke myntonnel te pomp nie, wat beteken hulle kan ook nie modder verwyder om by die vasgekeerdes uit te kom nie.
Sietse van der Woude, senior uitvoerende beampte: modernisering en veiligheid by Minerale Raad Suid-Afrika, en Dushendra Naidoo, hoof van veiligheid en volhoubare ontwikkeling, sal op die mynterrein wees. Hulle wil direk met die bestuur van Ekapa, Mines Rescue Services (MRS) , ʼn spesialis mynreddingsmaatskappy. asook die departement van minerale en petroleumbronne (DMPB) en georganiseerde arbeid kommunikeer.
Die oogmerk van hul besoek is om ondersteuning te bied aan Ekapa se bestuur, die bedryf, sy werknemers en hul families. Die hoofprioriteit bly steeds om die vyf mense te vind.
Luidens die verklaring sal die span met alle belanghebbendes skakel om die oorsaak van die voorval te bepaal, sodat lesse gedeel kan word om herhaling te voorkom.
Die Minerale Raad sê die bestuur van die voorval, die noodreaksie en ondersoek, bly die verantwoordelikheid van die myn en die betrokke owerhede.
Die Minerale Raad herbevestig sy verbintenis tot die bedryf se doelwit van ‘geen leed’. Die strewe is om verbetering in beroepsveiligheid en gesondheid mee te bring.
Howard Marsden, Ekapa se bestuurshoof, het aan die SABC gesê die reddingswerkers sukkel om die water in die tonnel wat meer as 800 meter diep is, uit te pomp, en het noodgedwonge nog pompe ingebring.
“Ons kan weens die baie water nie masjiene inbring om die modder te verwyder nie. Ondanks boorwerk vir dié doel, kon ons nog nie met die vasgekeerdes kommunikeer nie. Ons het ʼn idee waar hulle is.”
Die reddingspogings word deur heelwat “uitdagings” bemoeilik.
Mannas Fourie, uitvoerende hoof van MRS, sê hul elite-“proto-spanne” en toerusting word vir mynbou-ongelukke voorsien. Hul reddingspanne bestaan uit vrywilligers wat daagliks verskeie beroepe op verskillende myne beklee en oor wye kennis en ondervinding beskik.
Volgens Fourie is die stabilisering van modder uiters uitdagend omdat dit in teenstelling met ‘n rotsstorting, onvoorspelbaar is. Water bly altyd ’n risiko vir sekondêre modderstortings, hoewel die fisieke tonneltoestande in die Du Toitspan-myn blyk stabiel te wees.




