STRAND – “Sterf met herinneringe, nie drome nie.” Dit was die woorde waarmee wyle Chad de Villiers sy lewe geleef het. Nou, twee jaar nadat hy op 19 Desember 2023 grusaam vermoor is, is sy herinneringe met ink op sy ma, Morichia Jansen, se vel verewig terwyl sy steeds geregtigheid soek.
Luidens ‘n verslag van die Strand-polisie het beamptes omstreeks 13:05 op ‘n skietvoorval op die hoek van Petuniastraat en Fernlaan in Broadlandspark reageer waar hulle die 17-jarige met skietwonde aangetref het.
Dit was nadat hy glo deur lede van die SOS-bende gekonfronteer is. Twee van hulle het vuurwapens gehad en die tiener in die bors en kop geskiet. De Villiers is na ‘n nabye hospitaal gejaag, waar hy dood verklaar is (“Bendegeweld in die Strand eis nog ‘n lewe“, DistrikPos & Helderberg Gazette, 21 Desember 2023).

Vyf verdagtes tussen 19 en 37 jaar oud is oor die volgende paar dae in hegtenis geneem en van moord aangekla.
Vir Jansen het daardie oggend met ‘n moederlike instink begin. “Chad, Chad!” – dit was ‘n ma se histeriese gille – sy het geweet dis haar seun.
Omstreeks vier ure voor die tragedie was dit ‘n gewone skoolvakansiedag. Jansen het wakker geword en De Villiers in sy Kersfees-klere aangetref.
Sy het met haar seun gespot dat hy nie weer nuwe klere sal kry nie. “Hy het gesê: ‘Dis my oupa se verjaarsdag en ek weet nie of ek dit ná Kersfees gaan maak nie’,” vertel Jansen.
“Dis hoekom 19 Desember nooit weer dieselfde sal wees nie.”
De Villiers sou daardie dag saam met sy dansgroep, The Royals, gekuier het.
Jansen het die skote gehoor. Sy het na die hoek gehardloop, waar sy haar seun aangetref het – omring deur toeskouers – terwyl hy in ‘n plas bloed op die grond gelê het. “Ek het in my moederhart geweet my kind gaan dit nie maak nie,” sê sy.
Jansen hou vol haar seun was nie ‘n bendelid nie, maar erken hy is gedurende die laaste maande deur negatiewe elemente aangetrek, hoewel hy ook daarvandaan wegbeweeg het.
Dis waarom die bedroefde ma voel die polisie-teenwoordigheid by sy begrafnis was onregverdig. “Die aantal polisielede en Casspirs daar het dit laat lyk asof dit ‘n 28-bendelid was wat vermoor is,” sê sy.

“By sy roudiens het dit gelyk asof hy 71 was met al die mense wat daar was. Dit wys hoeveel lewens Chad geraak het.”
Uit daardie pyn is ‘n vasteberade besluit gebore: “Ek het my seun belowe ek sal veg vir geregtigheid tot die dag wat ek my oë toemaak.”

Twee jaar later draai die wiele van geregtigheid steeds stadig.

Volgens Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het vier verdagtes op 21 Desember 2023 in die Strand-landdroshof verskyn – een minder as die vyf wat die polisie aanvanklik in hegtenis geneem het.
Hulle is van moord aangekla sowel as die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Die saak is op 31 Julie 2024 na die Strand-streekhof oorgedra.
Die verhoor het op 14 Augustus verlede jaar begin, maar die aanklagte teen twee verdagtes is teruggetrek omdat die polisie geen bewyse gehad het wat hulle met die misdaad verbind nie.
Ntabazalila het die rede vir die vertragings verduidelik: “Die enkele ooggetuie is onder kruisondervraging. Vertragings is te wyte aan die emosionele toestand van die getuie.”
Die frustrasie word gedeel deur diegene wat De Villiers geken het.
Abduraghmaan Hartzenberg, die stigter van The Royals, sê hoe langer die saak voortsleep, hoe minder waarskynlik word ‘n skuldigbevinding.
“[Chad se] dood het gemaak dat ek na sosiale geregtigheid kyk,” vertel Hartzenberg.
Om geregtigheid te verseker, het hy ‘n aanlyn-petisie opgestel. “Ons soek mense wat saam met ons vir Chad gaan staan.”
Terwyl De Villiers se eweknieë mobiliseer, bly die werklikheid vir die gesin onverbiddelik: Geen hofuitspraak sal hom terugbring nie.
Soms troos sy Chad se broertjies en suster; anders steun hulle haar. “Ek moet na ‘n graf toe gaan om my kind te besoek,” sê sy ma. “Hy sou verlede jaar 18 geword het en toe moet ek ballonne opblaas vir ‘n spook!”
Dis waarom sy steeds veg – sy wil nie hê mense moet vergeet wie Chad was nie, want dan sal hy nie meer ‘n herinnering wees nie, maar meer soos ‘n droom.
Die verhoor van die twee oorblywende beskuldiges is steeds aan die gang.

You must be logged in to post a comment.