Die teikens is gestel, die honger is daar, en die talent is volop. Hoërskool Pietersburg se 1ste XV wil vanjaar nie net weer ‘n eindstryd speel nie – hulle wil die kroon van die Virseker Noordvaal-skild hê.
Verlede jaar het Pietersburg se 1ste XV en o.16A-span albei die Noordvaal-skildafdeling se eindstryd gehaal. Maar vir 2026 is die ambisies groter. Die skool mik om met al sy A-spanne in die eindstryd te speel; en met die talent wat deur dié geledere loop, lyk dit nie net na ‘n droom nie.
“Ons het ‘n baie goeie seisoen in 2025 gehad, met ‘n jong span. Ek dink daar is dalk ‘n teiken op ons rug vir hierdie jaar, so ons gaan elke week op ons beste moet wees,” verduidelik Corstiaan Vermaak, hoofafrigter van die 1ste XV.
NWU-reeks die eerste toets
Voordat Pieties aan die Noordvaal-skild kan dink, moet hulle eers deur die vuurdoop van die NWU-prestige-reeks kom. In hul poel wag Potchefstroom Volkskool, verlede jaar se bowl-afdelingwenners, en Klerksdorp Hoërskool, wat ‘n gevaarlike o.16-groep gehad het wat vanjaar in die oop spanne uitdraf.
Vir Vermaak gaan hierdie reeks en die toere wat volg, alles oor om die regte kombinasies te vind.
“Ons het ‘n groot poel van talent vanjaar, so ons moet seker maak die ouens word op die regte plekke gekies,” sê hy.
Toets teen die swaargewigte
Ná die NWU-reeks kom die groter toets: die St Stithians Easter-fees, waar Pieties teen swaargewigte soos Kempton Park en Middelburg Hoërskool gaan uitdraf. Kempton speel ‘n afdeling hoër as Pietersburg, terwyl Middelburg in die Virseker Noordvaal-bekerafdeling speel – twee afdelings bo die manne van die verre noorde.
Maar dit is presies hoekom Vermaak daarna uitsien.
“Ons meet onsself teen skole wat in hoër afdelings as ons speel. As ons met hulle kan kompeteer, dan wys dit ons program gaan vorentoe. Ek hou ook daarvan om teen Engelse skole en skole van die Kaap te speel. Hulle bring ‘n ander prentjie as wat die Noordvaal-skole wys,” verduidelik hy.
Op die Fairtree-fees, wat by Menlo Park aangebied word, sal Tygerberg en Fichardt Park volgende wees om Pietersburg se voorbereidings te toets.
Skild-veldtog begin
Teen die tyd dat die Virseker Noordvaal-skildafdeling afskop, moet Pietersburg se beste kombinasies op die veld wees. En maak geen fout nie, die kompetisie gaan straf wees.
“Daar is nie maklike wedstryde op 1ste XV-vlak nie. Jy kan dalk wegkom op o.14 en o.15 deur net staat te maak op sekere spelers, maar eerste span is op ‘n ander vlak. Piet Retief gaan goed wees, en Ben Vorster ook,” meen Vermaak.
Piet Retief het self verlede jaar ‘n gedugte o.16-groep gehad wat vanjaar honger is om hulleself in die oop spanne te bewys. Maar die wedstryd wat amper Limpopo laat stilstaan, is teen Ben Vorster.
“Dit is ‘n baie groot wedstryd, dorp teen dorp – Tzaneen en Pietersburg. Mense van die hele area ry om dié wedstryd te kom kyk. Die seuns wil hulleself bewys,” sê Vermaak.
Plaat-ambisies
Vir Vermaak is die Noordvaal-skild net die begin. Hy wil hê Pietersburg moet in die plaat-afdeling meeding – die tweede hoogste vlak in die Noordvaal-struktuur.
“Ons het die laaste twee jaar dit met net twee of so punte gemis. Dit is waar ek glo ons moet speel. Ons wil nie in die beker-afdeling speel nie,” sê hy.
Met ‘n span propvol talent en ‘n skild-eindstryd as inspirasie, gaan 2026 ‘n jaar wees waarin Pietersburg die Noordvaal se beste gaan kom toets. En as dit gebeur wat Vermaak glo gaan gebeur, sal Pieties ‘n plaat-plek losspeel.





